Is die Chinese kool die rugbysous werd?

Teen regte of ten onregte kan ʼn mens nie help nie om te wonder of dié kool die sous, en só baie daarvan, werd is.

Volgens die South China Morning Post (Hongkong) sal die multinasionale Chinese sakegroep Alibaba in die eersvolgende tien jaar $100 miljoen (sowat R1,2 miljard) in die ontwikkeling van rugby in China inpomp.

Na wat berig word, sluit die planne onder meer ʼn beroepsliga in. In watter mate dit spelers uit ander lande gaan betrek, sal gesien moet word.

Wêreldrugby (WR) het weliswaar voorlopig ʼn stokkie voor die program gesteek, omdat hy na aanleiding van die Chinese regering se gewysigde administratiewe benadering “eers klarigheid wil kry oor wie rugby in China lei”.

Brett Gosper, die uitvoerende hoof van WR, reken egter dit sal nie langer as ʼn maand of twee duur voor sake uitgepluis is nie.

Nou ja, Alibaba se geld is Alibaba se geld en hy kan seker daarmee doen wat hy wil, maar China is tans 87ste van die 105 lande op WR se ranglys.

Hoeveel sal dit kos om hom werklik ʼn wêreldspeler te maak?

Dink net wat ʼn rugbyland soos Fidji met só ʼn ruimhartige borg sou kon uitrig.

Daar is egter ʼn ander sy van die saak.

Gosper noem in ʼn ander berig in dieselfde blad dat China en die VSA met 30 miljoen elk die grootste getal rugbygeesdriftiges in enige bepaalde mark huisves. Dan volg Indië met 25 miljoen en Japan met 15 miljoen.

Moet dié lande dan nou juis as rugbykrag ontwikkel as hulle bereid is om hul sakke te skud om hulle op TV en by geleenthede soos die beplande toets tussen Suid-Afrika en Wallis in Washington in ander lande se rugby te verlustig?

Gesien sy omvattende belang in die mark vir digitale media en vermaak is Alibaba se belegging dalk nie so vergesog nie.

Dalk wil hy net die Chinese “belangstelling” in rugby ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico K ·

Geld tel ongelukig alles. Hoeveel spelers van Fidji en Samoa speel nie toetsrugby vir ander lande nie? En die reël dat ‘n speler wat eenkeer vir ‘n land gespeel het nooit weer vir ‘n ander land mag speel nie, het nie die klein landjies beskerm waarvoor die reël bedoel was nie. Die spelers weier net om vir Samoa of Fidji te speel tot hulle span kry in ‘n ryker land. Ek weet nie wat doen sokker anders nie, maar daar is dit nie ‘n probleem nie. Daar maak die spelers van klein landjies groot geld deur vir ryk klubs in Engeland, Italië, ens. te speel. Maar as die wêreldbeker kom, speel hul vir hul eie land.

bollie ·

Ek voorspel dat ‘n groot deel van die ontwikkeling op 7’s gaan konsentreer met die oog op die olimpiese spele.

Veritas ·

Bollie ek stem saam. Sewesrugby is lankal nie meer die klein kalfie van die vyftienmankode, wat aan die agterspeen suip nie. Die toernooie trek meer en meer toeskouers en meer en meer geld. As olimpiese sport, is daar meer blootstelling en die sport ervaar baie belangstelling in lande wat nie tradisioneel rugbylande is nie. Neem Fidji as voorbeeld . Hulle verloor hul beste spelers aan NZ maar tog staan hulle meer as hul man in sewes. Die rugbyglans is besig om van vyftienman na sewes te verskuif agv die moontlikheid dat enige van die spanne, met bietjie geluk, in die eindrondte kan speel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.