Is die Engelse nie net jaloers nie?

Daar word nou oral voelers uitgestoot vir Suid-Afrikaanse rugby om sy bande met die Suidelike Halfrond te verbreek en eerder sy gewig by die Noordelike Halfrond in te gooi.

Die ervare Engelse rugbyjoernalis Stephen Jones, het Sondag in sy weeklikse rubriek in die Londense Sunday Times ook sy stuiwer in die armbeurs gegooi ná Saterdag se Superrugby-eindstryd in Christchurch, toe die Crusaders die Lions met 37-18 geklop het.

Ja, dis dieselfde Jones wat Superrugby met basketbal vergelyk het, hoewel sy Engelse span vierde op die wêreldranglys is.

Hy voer aan dat Suid-Afrikaanse rugby baie meer baat sal vind om in Europa te speel, want die Superreeks doen die Suid-Afrikaans spanne geen gunste nie, veral nie oor die lang afstande wat afgelê moet word nie.

Hy sê voorts dat die Suid-Afrikaanse spanne gedwing om ’n spelpatroon te volg wat baie ver verwyder is van hul historiese sterkpunte.

Vraag nommer een: Hoe anders gaan jy die Crusaders of All Blacks klop?

Met stampkar- of skoprugby? Gaan vra maar vir die Sharks.

Volgens Jones is die Crusaders, wat Saterdag hul negende Superrugbytitel gewen het toe hulle die Lions met 38-17 geklop het, ’n skaduwee van kampioenspanne van weleer toe ’n speler soos Dan Carter nog die toutjies getrek het.

Die Crusaders sal ook sukkel om hul man te kan staan teen van die beste spanne in Europa, soos Saracens en Leicester (op hul beste, bygesê), Leinster en Racing92.

Ook het hy ’n hou ingekry oor die gehalte van die Lions.

“Jy het opgemerk dat die Lions ongetwyfeld die tweede beste span in die reeks was, maar dit laat jou wonder hoe pateties die swakste span moes wees.”

Vraag nommer twee: Hoeveel toetse het Engeland in Junie in Suid-Afrika gewen? Hoeveel toetse het die Franse teen die All Blacks gewen?

Ja, daar word jare reeds oor die Superreeks gekla, die aantal spanne wat daaraan deelneem, die bepalings en veral die afstande tussen Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland en Argentinië.

Maar sê nou maar Suid-Afrika het nie in die reeks gespeel het nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wesley ·

Alhoewel ek nie saamstem met Jones se sentimente nie, stem ek saam met die uitkoms. Ons sal sterker wees, finanisieel en rugby-gewys, as ons noord beweeg. NZ en Aus beroof ons van ons geldelike bydraes en die Noorde roof ons van talent. Kom ons vat dan altwee terug met een groot skuif.

Callie ·

Hoe gaan jy baat as jy nou teen swakker spanne speel. Nie een van daai spanne sal die Crusaders wen nie. Dis hoekom hulle toetsspanne nie die All Blacks kan wen nie. Engeland kon nie eers n kwota belaaide SA wen nie.

Jannie ·

Wie speel vir Saracens en Leinster? Nie hulle eie Britse/Europese spelers nie, maar talle uit die Suidelike halfrond, insluitende Suid-Afrika!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.