Is die SA spanne op peil vir die Superreeks?

super-rugby-2016-trophyDie afskop van die 2017 Superrugby-seisoen is nou oor minder as twee weke, en die meeste van die Suid-Afrikaanse spanne het die afgelope naweek vir oulaas aan hulle kombinasies in opwarmwedstryde geskaaf.

Almal sal nie ewe gelukkig met hul laaste slypwedstryde wees nie – en selfs dié spanne wat goed gevaar het, sal soos maar altyd voor die seisoen se begin voel daar is nog heelwat verfyning te doen.

Lions kry pak op Nuweland

Die Lions het Saterdagmiddag ’n tweede opwarmwedstryd verloor toe hulle op Nuweland teen die Stormers vasgeval het.

Die Kapenaars het nege drieë teen ses gedruk om die Lions 57-40 te klop.

Dié neerlaag volg kort op die hakke van die neerlaag wat die Johannesburgers twee weke gelede teen die Bulls in Harare gely het, hoewel dit toe nie die twee franchise’e se uitsoekspanne was nie.

Met Saterdag se telling 21-elk met rustyd, sou albei spanne geglo het hulle kan die wedstryd wen. Maar dit was die Stormers wat die inisiatief na rustyd geneem het om ses drieë in dié helfte in te ryg.

Hoeveel kan in die Lions se neerlaag gelees word? Die opportunistiese antwoord is ‘nie veel nie’, dit is immers ’n opwarmingswedstryd vroeg in die Superrugby-seisoen, waarvan die eindstryd eers in Augustus beslis word.

Daar is egter werk wat op Johan Ackermann-hulle wag, sal hulle self erken. En Robbie Fleck het ook ʼn paar brak kolle waarvan hy werk sal wil maak.

Fleck, afrigter van die Stormers, sal egter baie beslis ook positiewe aspekte uit sy span se voorseisoenwedstryde geneem het. Na oorwinnings oor die Cheetahs, SWD Arende en nou die Lions, sal daar ’n geloof in die Kapenaars se kamp wees dat 2017 hulle jaar kan wees.

Sal die Lions dieselfde oor hulle voorseisoen kan sê?

Puntemakers –

Stormers (21) 57: Drieë: Bongi Mbonambi 2, Chris van Zyl, Dan du Plessis, Siya Kolisi, Nizaam Carr, Cobus Wiese, Sikhumbuzo Notshe, Jano Vermaak. Doelskoppe: Robert du Preez 3, Jean-Luc du Plessis 3.
Lions (21) 40: Drieë: Madosh Tambwe 2, Malcolm Marx, Akker van der Merwe, Ruan Ackermann, Corné Fourie. Doelskoppe: Elton Jantjies 3, Andries Coetzee 2.

Sharks hardloop oor Bulls XV

Die Sharks het Vrydagmiddag geen probleme ondervind om ’n jong Bulls XV-tal 53-7 in Durban te klop nie.

Wat Robert du Preez, afrigter van die Sharks, uit die oorwinning kon wys geword het, is duister. Die Bulls se voorste spelers het die naweek aan ’n tiene-toernooi in Brisbane deelgeneem nadat hulle in  die week die Chiefs aangedurf het, wat beteken dit was in meeste gevalle hulle derde of vierde keuse spelers in die onderskeie posisies wat teen die Sharks uitgedraf het.

Sou dit die Durbaniete nie meer gebaat het om hulle voorbereiding so kort voor die aanvang van die Superrugby-toernooi teen sterker opposisie af te sluit nie? Vrydag se oorwinning kan die Sharks dalk net onder ’n wanindruk oor hul eie vermoëns laat verkeer.

Puntemakers – 

Sharks (31) 53: Drieë: Kobus van Wyk 3, Cobus Reinach, Lwazi Mvovo, Jeremy Ward, Wian Vosloo, Chiliboy Ralepelle, Sibusiso Nkosi. Doelskoppe: Pat Lambie 4.
Bulls XV (7) 7: Drieë: Lourens Steenkamp. Doelskop: Tony Jantjies.

Bulls klop Chiefs oortuigend

Die Bulls het Donderdag in Brisbane die Chiefs heel gemaklik 28-7 geklop.

’n Oorwinning oor die Chiefs, wat twee keer die Superrugby-kroon gedra het, is nie te versmaai nie en die Bulls sal met selfvertroue Kaapstad toe reis vir hul eerste wedstryd van die nuwe Superrugby-seisoen oor twee weke teen die Stormers.

Dit is amper ’n dekade sedert die Pretorianers se oorheersing van die Superrugby-seisoen. Nollis Marais, afrigter van die Bulls, sal hoop hierdie oorwinning was die eerste tree in 2017 na ’n herhaling van daardie roem, selfs al het die Chiefs sonder ses van hulle All Blacks gespeel.

Puntemakers –

Bulls (14) 28: Drieë: Burger Odendaal, Dries Swanepoel, Warrick Gelant. Doelskoppe: Handré Pollard 3, Tian Schoeman.
Chiefs: (7) 7: Drie: Bra Webber. Doelskop Stephen Donald.

Kings trap SWD se tjank af

Die Kings het die SWD Arende 42-24 in die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth geklop.

Beteken die oorwinning dat die Kings mededingend in hierdie jaar se Superrugby-kompetisie gaan wees?

As ’n span ses drieë in ’n wedstryd druk en boonop die wedstryd wen, is die afrigter gewoonlik ’n gelukkige man. Of Deon Davids, afrigter van die Kings, egter heeltemal tevrede sal wees, is te betwyfel.

Hulle verdediging was eina – selfs voor die verskeie veranderinge wat albei spanne vir die tweede helfte aangebring het. Die hanteerwerk was slordig, maar die reën en nat veld kan in ʼn mate daarvoor verkwalik word.

In die Superreeks gaan daar egter ook nat velde wees …

Die Kings se eerste Superrugby-wedstryd van die nuwe seisoen is oor twee weke teen die Jaguares in Port Elizabeth en met nie veel spelersdiepte nie, is dit te betwyfel of hulle mededingend sal wees.

Maar snaakse dinge gebeur in rugby en net dalk gryp die Kings se spelers die geleentheid aan en verbaas almal. Die rugbypubliek hou asem op.

Puntemakers –

Kings (28) 42: Drieë: Makazole MapimpiAlshaun Block, Michael Willemse, Andisa Ntsila, Malcolm Jaer, strafdrie ( 7 punte, geen doelskop volgens die nuwe reëls). Doelskoppe: Lionel Cronje 4, Pieter-Steyn de Wet.
SWD Arende: (12) 24: Drieë: Charlese Radebe, Janneman Stander, Boela Abrahams, Freginald Africa. Doelskoppe: Johnny Welthagen, Leegan Moos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Wat die Bulls-Chiefs wedstryd betref .Dit was ‘n totaal onbekende Chiefsspan met hier en daar ‘n bekende naam. Die Lions sonder ‘n paar van hul staatmakers sal hul sokkies moet oplig. Die Stormers sal eers weet of hul die paal gaan haal as hul verby die NZ spanne kan kom.

Derik van Wyk ·

Jy kan nie veel in hierdie wedstryde lees nie. Die Leeus / Stormers wedstryd het onbeperkte plaasvervangers gehad, baie eerstekeuse spelers is weggelaat of het slegs ‘n gedeelte van die wedstryd gespeel en die afrigters het ander faktore as die uitslag dopgehou.

Wat mens wel in hierdie wedstryde kan lees, is dat die Stormers klaarblyklik ‘n meer aanvallende wedstrydplan wil toepas (hulle het ‘n NS konsultant ingekry). Dit was al vorige jare die plan, en het dan midde-seisoen ontspoor. So sal maar sien of hulle dit kan volhou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.