Is die Stormers dalk volstruise?

Steek die Stormers nie dalk hul koppe in die sand weg en sien nie hul groot probleem raak nie?

Die Stormers se rugbybase en Robbie Fleck het Maandag openhartig gepraat oor wat fout is by die Stormers. Hulle slotsom was dat beserings ʼn groot rol speel in vanjaar se gesukkel van die Kaapse span.

Ja, hulle het glo ander probleme ook geïdentifiseer wat moet aandag kry, is berig. En dit ís belangrik. En, ja, hulle hét mank gegaan onder beserings.

Die maklike opsie om beserings die blaam te gee – en dat van jou spelers daarom te veel moet speel – is egter kortsigtig.

In Superrugby moet jy diepte hê – en genoeg daarvan om die onvermydelike beserings die hoof te bied. Dié les moes die Stormers darem al geleer het.

Dit was immers die vorige twee seisoene die Lions se sterkpunt toe hulle in albei jare tot die finaal deurgedring het.

Maar hierdie luuksheid van diepte om hul beseerdes te vervang, het die Stormers klaarblyklik nie. Is dit dalk die gevolg van die finansiële uitdagings wat WP Rugby het?

En is die baie beserings nie ook die geval met die twee spanne, die Bulle en die Lions, wat  die afgelope twee weke die Stormers geklop het nie? Albei dié spanne het ook onlangse wedstryde verloor, maar steeds die Stormers getroef.

♦ Van die WP en Stormers se voorste spelers wat (in gevalle steeds) nie beskikbaar is nie, is Jean-Luc du Plessis en sy neef Daniël du Plessis, die Bokkaptein en hulle voorste slot Eben Etzebeth en sy slotmaat JD Schickerling, Bongo Mbonambi, Frans Malherbe, Seabelo Senatla en Sergeal Petersen.  SP Marais, JJ Engelbrecht, Pieter-Steph du Toit was ook kortstondig nie beskikbaar nie en Scarra Ntubeni is darem nou weer slaggereed.

Toegegee, as hulle almal beskikbaar was, kon dit ongetwyfeld ʼn verskil gemaak het. Die feit is egter dat daar nie gehalteplaasvervangers vir hulle was nie. En dít is kortsigtig …

Die vertrek van die losskakel Robert du Preez na die Sharks was nie onverwags nie, maar gelukkig het Damian Willemse sy plek deeglik kom volstaan.

Wat Robbie Fleck egter sal doen wanneer Willemse saam met die Junior Bokke oorsee is, weet ʼn mens nie. Of sal Jean-Luc du Plessis dalk dan al reg wees?

♦ Die Lions is tans sonder hul Springbokkaptein Warren Whiteley, en die man wat vir hom as leier by die Lions instaan as hy nie kan speel nie, Jaco Kriel, het ʼn langtermynbesering. Die vleuels Aphiwe Dyantyi en Springbok Courtnall Skosan, die Springboksenter Rohan Janse van Rensburg en die Bokskrumskakel, Ross Cronjé is ook op die krukkelys.

Hulle het diepte in die voorry en roteer hul goeie stutte gereeld; ook so met hul slotte en senters.

♦ By die Bulls was die span wat teen die Stormers teen alle verwagtinge in gewen het (met 33-23), net so hard getref en hulle is voor die wedstryd boonop kwaai ontwrig.

Hulle was vir die wedstryd sonder hul twee voorste slotte, Lood de Jager en RG Snyman, teen die Stormers. Hendré Stassen, net drie maande ná sy 20ste verjaardag, was Jason Jenkins se slotmaat; en die ewe goed en ewe jonk Stassen se plaasvervanger was Ruben van Heerden.

Dié twee moes skielik instaan toe Hanro Liebenberg van slot af na agsteman verskuif is omdat Tim Agaba voor die wedstryd weens verkoue onttrek het. Travis Ismaiel moes ook onttrek en is deur Johnny Kotze op vleuel vervang. Jamba Ulengo is steeds op die krukkelys, en so ook die Bulls se nommer een-skrumskakel André Warner.

Ivan van Zyl het net betyds herstel om die jong Embrose Papier agter die skrum by te staan.

Ashton Fortuin se ernstige besering vroeg in Februarie het die Bulls se slotdiepte deeglik beproef en hy is vir die seisoen uit; en die twee ervare flanke Ruan Steenkamp en Jannes Kirsten is nog nie reg om te speel nie.

♦ Die KwaZulu-Natallers is tot dusver ietwat minder deur spelerafwesigheid geraak, maar hulle het goed gekontrakteer en het heelwat diepte waarmee hulle die beseringsprobleem, veral tussen die losvoorspelers, ondervang het.

In ‘n stadium was ondermeer die tweeeling Jean-Luc en Dan du Preez en ook Philip van der Walt beseer. Tyle Paul, Tera Mtembu, Jacques Vermeulen en Keegan Daniel het hier ingestaan. En dit gaan in die voorry goed waar Coenie Oosthuizen nog lank nie gereed is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.