Is die Vrystaat se wittebrood verby?

Dit sal ʼn groot jammerte wees as die Vrystaat-Cheetahs se spelbrekers van volgende naweek af nie meer in die Curriebeker-reeks speel nie.

Die Cheetahs ding in die nuwe Pro14-reeks teen die top-klubspanne van Ierland, Wallis, Skotland en Italië mee en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se opdrag is duidelik: Kies jul beste span vir dié reeks.

Dit sal baie interessant wees om te sien hoe die Cheetahs hul balanseertoertjie sal uitvoer. Nadat hulle Saterdag in Bloemfontein die Goue Leeus met 30-24 geklop het, het hulle hul voorsprong (25 punte) in die Curriebekerreeks behou.

Maar dié naweek wag die Sharks (24) wat in hul nekke blaas nadat hulle die Westelike Provinsie met 21-20 op Nuweland geklop het.

As die Cheetahs gehoor aan Saru se riglyne gee, beteken dit dat hul beste span na Noord-Ierland sal reis vir die kragmeting met Ulster en die week daarna na Limerick vir die wedstryd teen Munster … Rassie Erasmus se span.

Dan volg daar darem tuiswedstryde teen Zebre, Leinster en later ook Edinburgh.

Maar terselfdertyd moet die Curriebekerspan teen die Sharks, WP en Blou Bulle speel.

Ja, daar is baie ongeslypte diamante wat in Bloemfontein wag om ontgin te word, maar om darem sonder Clayton Blommetjies, Makazole Mapimpi, Rosko Specman, William Small-Smith, Sergeal Pietersen, Tian Meyer, Ox Nche, Torsten van Jaarsveld, Aranos Coetzee, Reniel Hugo en Neil Jordaan teen die Sharks en WP te speel, is darem baie gevra.

Boonop gaan die Blitsbokke se afrigter, Neil Powell, oor ʼn paar weke aanspraak maak op Specman en Cecil Afrika en dan gaan die Cheetahs se diepte nog verder beproef word.

Sonder hul spelbrekers glo ek hul wittebrood in die Curriebekerreeks is verby en kan hul gaandeweg uitsak en deur die Sharks en WP verbygesteek word.

Maar wat sal gebeur as hulle in hul eerste seisoen sukkel om in die Pro14-reeks aan te pas en hul Curriebekerdrome is ook besig om weg te waai?

Ek wonder ook hoeveel toeskouers na Bloemfontein sal stroom om Zebre in aksie te sien?

Het die Blou Bulle (13 punte) en Goue Leeus (10) nog ʼn kans om die Curriebeker-uitspeelrondes te haal?

Wees maar verseker dat die Bulle se afrigter, John Mitchell, Maandag die sweep hard op Loftus sal klap en dat hulle nie meer skandes sal maak soos Vrydagaand in die Mbombela-stadion toe hulle met 51-15 vertrap is nie.

Curriebeker-puntestand na die eerste ronde –
Vrystaat-Cheetahs (25), Sharks (24), WP (17), Pumas (15), Griekwas (14), Blou Bulle (13) en Goue Leeus (10).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Veritas ·

Die voordeel hier, net soos met spanne wat Superrugby speel, is dat jong spelers vroeër blootstelling kry en dit kan net goed wees vir SA rugby. As ons eerlik wil wees, moet ons erken dat die Springbokke nie ‘n faktor sal wees as ons nie spanne in die Superrugby of Pro 14 toernooie het nie. Die Curriebeker is ‘n noodsaaklike voedingsbron vir die toekoms van SA rugby.

Johannes van Rooyen ·

Hulle gaan net die verloorders wees hier ongelukkig

Herman Toerien ·

Ek verwag dat wanneer die Vrystaat se twee spanne aangekondig gaan word, daar heelwat leenspelers in gaan wees – puik spelers in ander bonde wat graag Pro 14-blootsteling wil hê. Dit is ‘n kein bond en het nie die byna eindelose diepte van bv die WP en Noord-Transvaal nie. Maar ek stem, ontgin wat die potensiaal toon om ontgin te word.
Wat my meer bekommer is dat die Cheetahs skynbaar die slegte gewoonte weer aangeleer het om balle weg te skop en so bykomende aanvalsgeleenthede vir hul opponente te gee. Dalk iets met die nuwe afrigting te doen? Dit lyk ook vir my ander spanne het nou geleer die Vrystaat is (op die oomblik) kwesbaar teen ononderbroke spel – harloop met mening, afgewissel deur die vasmaak van die bal, net om weer te dryf of te hardloop.

Jannie ·

Die Curriebeker is erg afgewater en trek bitter min belangstelling. Ek dink daar sal meer toeskouers vir die Pro14 wedstryde. Die spelers wil ook eerder in die internasionale toernooi speel. Curriebeker in Vrystaat sal afgegradeer word na ontwikkelings toernooi. Eerlik, wie volg nog Curriebeker?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.