Is dit dalk ‘n voorbode vir `n Lions-sege?

Ivan Scott in aksie. (Foto: RTE News)

Ivan Scott in aksie. (Foto: RTE News)

Daar is twee dinge waarmee jy nie in Nieu-Seeland lol nie … rugby en skape, oftewel hul lammers.

Wanneer dinge aan die rugbyfront goed gaan, soos wanneer die All Blacks die Wêreldbekertoernooi wen, of die Hurricanes in die eindstryd van die Superrugby-reeks speel, gaan dit goed in die Land van die Lang Wit Wolk. Maar wanneer dinge die dag nie reg verloop nie, het dit al byna tot die val van `n regering gelei, soos in 1981 se algemene verkiesing toe Robert Muldoon se regering (wat ten gunste van die Bok-toer in 1981 was) byna die algemene verkiesing verloor het.

Rugby is koning in Nieu-Seeland. Per capita het Nieu-Seeland die meeste rugbyspelers in die wêreld en elke naweek is daar ver oor die100 000 spelers doenig, nie sleg vir `n land met ‘n bevolking van `n rapsie oor 4,7 miljoen inwoners nie.

Maar daar loop ook miljoene skape op die 16 000 skaap- en beesplase rond. Jaarliks word daar 24 miljoen lammers uitgevoer en daar is min dinge so lekker soos `n Nieu-Seelandse tjoppie, nog smaakliker as `n Karoo-tjoppie wanneer daar oor die Springbokspan gesels word.

Maar die afgelope naweek is Nieu-Seelanders tot in hul skoene geskok, nie omdat die Chiefs en Highlanders in die halfeinstryd van die Supeerreeks vasgeval het nie, maar omdat ‘n Ierse skaapskeerder Ivan Scott die wêreldrekord vir skaapskeerdery, wat vanselfsprekend deur `n Nieu-Seelander (Dion King) gehou is, laat spat het.

Scott het, volgens stuff.co.nz, die rekord met een lam verbeter. Dit het hom gemiddeld 37,35 sekondes geneem om `n lam van sy wol ontslae te laat raak en hy het in nege uur 867 lammers geskeer – een meer as die vorige rekord.

Scott, wat sedert 2000 in die somermaande in Rotorua werk en skape skeer, het in die eerste twee uur 193 lammers geskeer. Hy het regdeur die dag gefokus gebly (klink dit nie bekend in rugbyterme nie) en hoewel hy in die laaste van die nege uur moeg geword het en net 166 lammers kon skeer, was dit genoeg om die rekord agter sy naam te skryf.

Nou is die vraag, hoe lank sal die rekord bly staan?

Soos ek die Nieu-Seelanders ken, sal hulle alles in hul vermoë doen om weer die rekord tuis te kry. Dis in hul bloed, dis in hul gene, net soos hul rugyspanne wat oorheers.

Maar nou wonder ek of dit nie dalk ‘n voorbode is dat die Lions Saterdag in Wellington ook die “onmoontlike” kan vermag om die Hurricanes te klop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.