Is dít die medisyne waarop SA rugby wag?

Brendan Venter (Foto: YouTube)

Brendan Venter (Foto: YouTube)

Afrigting gaan oor nalatenskap, oor die vordering wat gemaak word, oor die ontwikkeling van spelers en sekerlik ook oor die vertonings wat behaal word en bekers wat in die trofeekas staan.

Die Engelse het raakgevat toe hulle Eddie Jones aangestel het, want hy het ʼn ploeterende span wat nie eens die uitspeelrondes van die vorige Wêreldbekertoernooi tuis kon haal nie, binne ʼn jaar in wêreldbrekers versool.

Jones spog nou met 14 uit 14 oorwinnings, en die span is ná 15 agtereenvolgende toetse onoorwonne nadat die Engelse Uruguay geklop het net voordat Jones oorgeneem het.

Hy het sy vertrouelinge soos Steve Borthwick, Paul Gustard en Neal Hatley as hulpafrigters aangestel. Hy het die oud-Engelse flank Richard Hill as spanbestuurder, die kopdokter Jeremy Snapes  en die visuele vaardigheidsghoeroe dr. Sherylle Calder ook betrek. Hulle het vernuwing teweeg gebring,  hulle doen en dink dieselfde, en hulle praat een rugbytaal.

Italië, op ʼn heel ander skaal, is in dieselfde bootjie. Die Ier Conor O’Shea (hy het Harlequins in 2012 tot glorie in die Engelse Premierliga gebrei) is verlede jaar vir vier jaar aangestel.

O’Shea het die gewese Engelse senter en Engelse hulpafrigter Mike Catt as een van sy luitenante aangestel. Só ook Stephen Aboud, wat die hoof van Ierland se tegniese afrigting was, en dan ook vir die oud-Boksenter Brendan Venter as verdedigingkonsultant.

Ek weet nie of Italië ooit saam met die groot honde sal gesels nie, want hulle het nie die nodige spelersgetalle en genoeg spanne wat op die hoogste vlak deelneem nie. Maar wat belangrik is, is dat rugby sal ontwikkel en nuwe spelers ontgin sal word.

Daar was ʼn groot opflikkering in Sondag se eerste helfte van Italië se Sesnasieswedstryd teen Wallis in Rome. Die Azzurri was met rustyd nog voor … trouens, tot in die 53ste minuut. Hul verdediging was onpriembaar en agterlangs was daar vernuwing in hul spel.

In die wandelgange van SA rugby word daar al hoe meer gefluister dat Venter ʼn leidende rol in die afrigting van die Bokke sal neem.

Ek het hom en sy broer André in die laat tagtigerjare en vroeë negentigerjare leer ken. Talentvol, denkers van die spel, passievol en vurig.

Ek wil ʼn klip in die bos gooi. Venter sal nie dadelik die leisels by Allister Coetzee neem nie, maar voor die toer aan die einde van die jaar, sal hy in die stoel wees en sal daar vernuwing in SA rugby wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

zahn ·

Ek hoop jou voorspelling is reg, want die rugby wat nou in ons kele afgedruk word, werk nie lekker met my binnegoed nie. Allistair is ‘n teleurstelling, maar dit hang af wat fokile gaan besluit. Rugby is ‘n ramp!

job jobson ·

Moontlik was 2016 vir AC nie beskore nie. Gee 2017 hom en kyk wat gebeur. Ons moenie te gou oordeel nie.

Hennie ·

Te gou oordeel? ek sal voorspel wat gaan in 2017 gebeur as AC in sy pos bly, SA gaan sukkel om onder die top 10 lande in wereld rugby te eindig.

MANIE ·

Allistar is nie opgewasse as springbok afrigter en nou weet ek dat ek die regte besluit geneem het om sport van my dstv pakket aftehaal en nie meer n sent te spandeer op n springbok span. Die minister en sy gespuis kan maar gaan kyk

Pietser ·

Nou hoekom volg jy dan nog Springbokrugby deur hier te reageer? Bly weg, jy het mos nou besluit jy wil niks meer te doen he met die opset nie.

Koos ·

As jy SA rugby wil regruk moet dan nie rugby verder ondersteun tot tyd en wyl kwotas BEE ens. afgeskaf is. Die spelers self moet weier om hulself so te verlaag om in spanne te speel waar diskriminasie teen wit spelers asook bestuur en afrigting toegepas word.

Pietser ·

Gee Alistair ‘n behoorlike kans. Hy moes ‘n groot gemors oorneem vanaf heimlike eier. AL die spelers in die huidige Bok-groep is op meriete daar. Ek daag enige een uit om die teendeel te bewys.

Pietser ·

Stormers het die beste wenrekord van alle SA spanne in Superrugby. Stormers is ook permanent in finale/halfeinstryde. Alistair was natuurlik ook hulpafrigter van die wereldbeker wenner Bokke in 2007. Beslis een van ons beste afrigters op meriete.

Pietser ·

Gekleurde spelers moet vinniger deurgebring work, kyk net hoe suksesvol is ons getransformeerde 7’s span. Al die talent wat daar le om net ontgin te word, maak my opgewonde.

Smirre ·

Ek was onder die indruk dat verdediging Brendan Venter se forte is.

Ons kort meer vernyn op die aanval en minder op die verdediging.

AC is bekend vir sy snoep benadering by die Stormers tov aanvallende spel.

Dog ek sê maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.