Is dit ʼn All Black-meesterskuif of ʼn brousel?

Jordie Barrett – as jy goed genoeg is, is jy oud genoeg (Foto Twitter @ TaranakiRugby)

As jy goed genoeg is, is jy oud genoeg.

Dink maar aan Naas Botha, Jonny Wilkinson, Jonah Lomu en George North.

Dis hoekom die All Blacks se keuse van die 20-jarige heelagter Jordie Barrett vir Saterdag se beslissende derde toets teen die Britse en Ierse Leeus in Auckland ʼn meesterskuif kan wees, maar in ander kringe (veral in die Britse media)  bevraagteken word.

Ek weet nie of die Springbokkeurders soveel waagmoed sou hê nie. Sal hulle byvoorbeeld vir Curwin Bosch vir ʼn beslissende toets kies?

Die reeks tussen die All Blacks en Leeus is in die weegskaal op een-elk, maar dit laat nie die All Black-keurders afwyk van hul wedstrydplan nie. Plant eerder ʼn saadjie by die teenstanders, kry hulle om dalk hul wedstrydplan te verander.

Barrett vervang Israel Dagg, wat in die tweede toets heelagter gespeel het. Dagg skuif terug na regtervleuel in die plek van Waisake Naholo, wat nog nie heeltemal herstel het van harsingskudding nie. Julian Savea (53 toetse) speel die eerste keer in die reeks linkervleuel in die plek van die olike Rieko Ioane en die onervare Ngani Laumape vervang Sonny Bill Williams, wat geskors is ná sy skouerloop op Anthony Watson in die tweede toets in Wellington.

Barrett het nog net in een toets gespeel, toe hy vroeër vanjaar vir 17 minute as plaasvervanger teen Samoa opgestuur is. Laumape se bydrae was 55 minute toe Williams met ʼn rooi kaart afgestuur is.

Barrett is jonk en onervare, maar hy speel baie dieselfde as Ben Smith  (ook harsingskudding), die speler wat hy eintlik vervang. Ja, die Leeus se Conor Murray en Johnny Sexton gaan hom met hoë balle toets, maar Dagg en sy ouer boetie Beauden sal daar wees om hom te beskerm, om baie van die druk af te neem.

Met Beauden en ʼn derde broer Scott (op die bank) ook in die span, sal Jordie soomloos inskakel, soos Willie, Carel en Michael du Plessis destyds.

Laumape? Hy speel baie soos Williams, hoewel hy nie dieselfde vaardighede het nie. Hardloop ook op die man af, maak gelyk wat voor hom kom en kan langs Beauden Barrett gedy.

As Laumape dalk sou sukkel, kan die All Blacks altyd terugval op Malakai Fekitoa, wat op die bank is.

Die Leeus het nie aan hul wenspan, wat in Wellington met 24-21 gewen het, verander nie.

Die selfvertroue loop hoog , maar kom ons wees eerlik, sou die Leeus die All Blacks geklop het as Sonny Bill Williams nie in die 25ste minuut afgestuur is nie? Sou hulle aan die wenkant gewees het as Beauden Barrett nie met drie maklike strafskoppe misluk het nie, sou hulle  steeds aan die wenkant gebly het as Jerome Kaino (hy is verrassend afgestuur sodat Laumape in Williams se plek opgestuur kon word) die hele tyd op die veld was?

Die Leeus glo hulle kan dit weer doen, maar weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie.

Die spanne –

Nieu-Seeland
15 Jordie Barrett, 14 Israel Dagg, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Ngani Laumape, 11 Julian Savea, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Sam Cane, 6 Jerome Kaino, 5 Samuel Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Wyatt Crockett, 18 Charlie Faumuina, 19 Scott Barrett, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Aaron Cruden, 23 Malakai Fekitoa.

Britse en Ierse Leeus: 15 Liam Williams, 14 Anthony Watson, 13 Jonathan Davies, 12 Owen Farrell, 11 Elliot Daly, 10 Johnny Sexton, 9 Conor Murray, 8 Taulupe Faletau, 7 Sean O’Brien, 6 Sam Warburton (kaptein), 5 Alun Wyn Jones, 4 Maro Itoje, 3 Tadhg Furlong, 2 Jamie George, 1 Mako Vunipola. Bank: 16 Ken Owens, 17 Jack McGrath, 18 Kyle Sinckler, 19 Courtney Lawes, 20 Christiaan Stander, 21 Rhys Webb, 22 Ben Te’o, 23 Jack Nowell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Net solank die afrigter nie weer sy naam met ‘n plank slaan en ‘n senter op vlank kies nie. Van te veel selfvertoue kan mens ook ‘stupid’ besluite neem, of arrogant raak, alhoewel die All Black afrigters is normaalweg ouens wat op hul voete kan dink.

Johann ·

Geen wonder die vlank het toe nie gewerk nie, miskien sou dit help as ek dit reg gespel het, nl flank.

Nico K ·

Het Willie, Carel en Michael ooit saam vir die Springbokke gespeel? Ek weet hul het saam vir die WP gespeel, maar ek kan nie onthou of hulle saam vir die Springbokke gespeel het nie. Het drie broers al in dieselfde toets vir die Springbokke gespeel?

Gatvol ·

Was al drie Bokke, ongelukkig nooit saam in ‘n toets gespeel nie.

Lol ·

Die du Plessis jongste broer Jacques ( redelik jonger as ouer 3) het vir OP gespeel. Was net so talentvol soos ouer broers maar het nie lank gespeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.