Is dit ʼn Saru-rookskerm, of is daar ander probleme?

logo-saruIs die aanwysing van die nuwe Springbokafrigter eers teen die einde van Maart ʼn Saru-rookskerm? Of word die spelers vir eers vir die wolwe gegooi met die hoop dat hulle later reggeskaaf kan word?

Het die vertraging van sy aanwysing nie dalk as rede dat niemand, hier en oorsee, die Bokke wil afrig nie? Geen afrigter wil tog voorgeskryf word oor hoe hy die span moet kies en afrigter nie.

Die Springbokke speel in Junie drie toetse teen Ierland, tans sesde op die wêreldranglys maar die afgelope jare altyd ʼn gevaarlike span. Hoe die nuwe afrigter binne twee maande sy bestuurspan sal kan saamstel, sy kontraktuele sake met Saru kan uitsorteer, en dan eers met sy spelers moet begin werk gaan die verstand te bowe.

Is dit wel ʼn rookskerm? Dit impliseer dat die man wat einde Maart aangewys sal word, reeds weet hy is die uitverkorene. Dalk is hy al besig om sy bestuurspan bymekaar te kry, sy wedstrydplan te bepaal. Maar waarom sy naam in daardie geval nie bekend gemaak word nie, maak nie sin nie.

Aan die ander kant, as Saru se uitvoerende hoof Jurie Roux nou oor die volgende 11 weke of so eers ʼn man moet soek en identifiseer voordat hy einde Maart die hoofbestuur van Saru kan oortuig dit is die regte man, is dit kortsigtige, onverantwoordelike optrede van Saru teenoor die afrigter en spelers wat hy gaan kies.

Wag hulle vir Allister Coetzee om sy Japanse verpligtinge af te handel? Dit kling of daar ʼn sterk groep is wat hom nie as afrigter wil hê nie omdat sy spanne nie drieë druk nie.

Is dit nie Coetzee nie, wie is dit dan? Kom ons sê, sommer as voorbeeld, dis Johan Ackermann waarop besluit word. Sy naam word tog oral as ʼn kandidaat genoem.

Ackers sal ongetwyfeld sy assistent, die baie onderskatte Swys de Bruin, op sy bestuurspan aanstel.  Wat gaan van die Lions word?

Wie gaan die span dan afrig? En wie gaan die plekke van die nuwe afrigter se voorkeur-bestuurspan, of hulle nou by die Lions of elders is, inneem?

Onthou, teen einde Maart is daar net vyf, ses rondes van die Superreeks verby. Vir ʼn franchise om dan skielik met ʼn nuwe bestuurspan aan die stuur te moet werk sal enige speler omvergooi.

Die arme nuwe afrigter sal weinig tyd vir beplanning hê. Hy sal nie werklik genoeg tyd hê om met die franchise-afrigters oor sy planne te praat en hulle insette te kry nie. En hy sal ongetwyfeld oefenkamp moet inpas wat eenvoudig sal beteken dat die voorste spelers uit hulle Superspanne gehaal sal word.

Die nuwe afrigter kan immers nie tussen 27 Mei en die daaropvolgende naweek ʼn span vir ʼn toets voorberei nie.

Nee wat, dit sal iemand wees wat nie by ʼn franchise afrig nie. Kyk na Coetzee, moontlik John Plumtree wat sy gesin na twee internasionale trekke (van SA na Ierland, toe na Nieu-Seeland) nie weer wil ontwortel nie – en dan Rassie Erasmus of Brendan Venter.

Die maklikste is maar seker om te sê dit is onmoontlik om uit te werk wat beoog word. Wat egter seker is, is dat die Bokke onder die gewenste vlak van voorbereiding sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Manie ·

Is dit nou die Cosatu- Springbok Afrigter.
Dit kan dalk langer vat as julle kop in een mus is met Vakbonde. Dir is die een vergadering (Party) na die ander en hulle is met niks tevrede as hulle nie hulle sin kry nie.
Julle gaan die ondersreuners verloor asook nog goeie spelers!!!

Christo Visagie ·

SARU wil ‘n gekleurde/swart afrigter aanstel, solank hy net nie wit is nie,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,die enigste een wat ek aan kan dink wat die anc tevrede sal stel is Alistair Coetzee. Rugby gaan die groot verloorder wees want baie ondersteuners gaan rugby die rug draai a.gv. politieke inmenging.

Cjan ·

Dis nie meer SARU nie dis nou SAPR – Suid Afrikaanse Politieke Rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.