Is dit ʼn teken van Bokke se rommelstatus?

Wie sou ooit kon dink dat die All Blacks en die Bokke ʼn toets in Nieu-Seeland in een van die land se kleiner stadions speel.

Is dit ʼn weerspieëling van die Bokke se trefkrag, van hul rommelstatus nadat hulle verlede seisoen net vier van hul 12 toetse kon wen?

Ons praat nie van Christchurch, Dunedin, Hamilton, Napier of New Plymouth nie, maar van Auckland. Dit is ʼn potensiële inkomsteverlies van miljoene: 50 000 toeskouers op Edenpark of die QBE-stadion se 23 000 op die graswalle.

Daar is geen verduideliking van die Nieu-Seelandse Rugbyunie se kant nie, net dat die All Blacks die Bokke op 16 September in die Rugbykampioenskap pak. Nie op Edenpark nie, maar in die QBE-stadion (die ou North Harbour-stadion) in Albany, aan die noordekant van Auckland.

Daar waar die All Blacks nog net een toets, in 2005, gespeel het toe hulle Fidji met 91-0 geklop het.

Dis waar die Bokke in die Wêreldbekertoernooi  in 2011 teen Namibië en Samoa gespeel het.

Jinne mense, die veld is die Blues se tweede tuiste en normaalweg word daar net een Superrugbywedstryd per jaar daar gespeel.

ʼn Indrukwekkende hoofpawiljoen en dan graswalle reg rondom, byna netsoos die UJ-stadion in Johannesburg waar die Universiteit van Johannesburg Varsitybekerrugby speel.

Ja, daar word twee toetse teen die Britse en Ierse Leeus op Edenpark gespeel en dalk is die Kiwi’s bang dat die geldkrane in September steeds leeg sal wees, maar hoekom die toets dan steeds in Auckland (Albany) speel?

Die Bokke speel ook oorsee teen die Wallabies in Perth (waar duisende oud-Suid-Afrikaners woon) en dan in Salta teen die Argentynse Poemas.

Dis waar die Bokke verlede jaar met 26-24 geklop is en in 2014 met 33-31 deurgeskraap het.

Dan speel die All Blacks ook “tuis” op Nuweland in Kaapstad mits die Westelike Provinsie Rugbyunie ʼn veiligheidsertifikaat kan indien. Die Bokke speel ook die eerste keer in jare in Bloemfontein en in Port Elizabeth.

As dit darem nie ʼn teken is nie dat die Cheetahs en Southern Kings nie meer gaan Superrugby speel nie, dan weet ek nie so mooi nie …

Springbokke se Rugbykampioenkapbepalings:

19 Augustus: Springbokke t Argentynse Poemas (Port Elizabeth)
24 Augustus: Poemas vs Springbokke (Salta)
9 September: Wallabies vs Springbokke (Perth)
16 September:  All Blacks vs Springbokke (Albany)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Russl ·

Elke span speel 6 wedstryde en nie net 4 nie. Waar is die laaste 2 wedstryde.

Indien die kapasiteit van die stadion ‘n aanduiding is van wat NZ van SA rugby dink, dan dink hulle meer van SA rugby as verlede jaar. Hulle het SA op die AMI stadion gespeel, met ‘n kapasiteit van 18000. QBE stadion se kapasiteit is 25 000.

So kom ons gebruik dieselfde voorbeeld en vergelyk SA se stadion met die grootste kapasiteit met die een vir die NZ toets. Soccor city kan amper 95 000 toeskouers vat, hoekom sal SARU nou ‘n toets hou op Nuweland wat net 51 000 kan vat. Dis ‘n groot potensiele inkomste verlies of is hulle nou rommelstatus omdat ons nie die stadium vat met die grootste kapasiteit nie?

Stoffel ·

Wel as julle almal opgelet het, het mense al die vorige jaar gekla oor hoe kaartjie pryse, so word seker na kleiner stadions geskuif om seker te maak niemand sien die lae bywoning nie. Wat NZ betref, weet ek nie, hulle wil seker die wit olifant ook bietjie gebruik vir n slag, en gee die plaaslike gemeenskap wat nie bereid is om te toer nie die kans om n wedstryd te aanskou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.