Is dit Rassie Erasmus se skuld?

Rassie Erasmus (Foto: twitter munsterrugby)

Dis een van daardie vraagstukke waarop daar vooraf geen antwoorde is nie.

ʼn Mens sal nooit weet of daar raakgevat word met die aanstelling van ʼn nuwe afrigter nie.

Dis seker belangrik om een of twee bekers in die trofeekas te hê, maar wat belangriker is, is of die spelers se vaardighede verbeter, of daar vernuwing is, of die grondslag vir die toekoms gelê is en of daar op die hoekstene voortgebou kan word.

Ek glo vas dat die Bulls die vrugte sal pluk met die aanstelling van John Mitchell. Hy kan soos ʼn vars briesie deur die span trek en die spelers nuwe vaardighede aanleer, maar dan moet hy behoorlik kans gegee word, want dit neem jare vir ʼn afrigter om ʼn wonderwerker te word.

Kom ons gebruik Rassie Erasmus as voorbeeld.

Erasmus, wat verlede jaar as Munster se direkteur van afrigting aangestel is, het in die middel van Oktober die leisels as afrigter geneem ná die skielike afsterwe van die vorige afrigter, Anthony Foley.

Met Erasmus agter die stuur, het Munster ʼn suksesvolle seisoen agter die rug. Die span het bo-aan die Pro12-puntelys geëindig en was ook eerste in sy afdeling van die Europese Kampioenskap.

Onder Erasmus en Foley het die span 19 van sy 22 wedstryde in die Pro12-reeks gewen. Algeheel het Munster 23 van sy 27 wedstryde gewen, maar die span kon nie enige titel wen nie nadat die Walliese Scarlets Munster met 46-22 in Saterdag se eindstryd van die Pro12-reeks in Dublin geklop het.

Die Scarlets het Munster oorskadu, wat loodvoetig voorgekom en konserwatief gespeel het, soos in ʼn hele paar ander wedstryde vanjaar.

Die Scarlets, wat Munster vroeër in die reeks met 30-21 geklop het, het op dié vertoning voortgebou en Munster kon nie die gate toestop nie, ongeag die groot bydrae van Jacques Nienaber as verdedigingsafrigter.

Die krake het begin wys en daar word gesê dat Munster vernuwing  nodig het, dat die klub meer aanvallend moet speel, dat hulle ʼn kopskuif sal moet maak.

Ja, Erasmus het gesorg dat die nodige strukture gelê is, ja, en hy het gesorg dat die passie trots herstel is, maar nee, hy kon nie daarin slaag om bekers in die trofeekas te plaas nie.

Moet ʼn mens hom ná net agt maande oordeel, of steek daar waarheid daarin dat die net wyer gespan moet word?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Denise ·

Hoekom vir hom die skuld gee moet hy dan die wedstryde ook vir die spelers speel???

Veritas ·

Agt maande is hopeloos te kort om ‘n span van Zero’s tot Hero’s te voer. Om vanaf nêrens te kom en dan in die finale wedstryd te verloor wys op iets positiefs wat gebeur het. As die klubghoeroes enige insig het, sal hulle alles in hul vermoë doen om Rassie daar te hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.