Is dit vaarwel Nuweland, Ellispark, Kingspark?

Nuweland – vaarwel? (Foto: WP Rugby)

Dit wil voorkom of twee van Suid-Afrika se oudste en beroemdste rugbyheiligdomme, Nuweland en Ellispark, en ʼn jongere, Kingspark, onder meer die offerande is vir die aanbieding van 2023 se toernooi om die Rugbywêreldbeker in Suid-Afrika.

In ʼn oënskynlike reddingsboei vir die wit olifante van 2010 se Sokkerwêreldbeker, word g’n enkele wedstryd in die SA Rugbyunie (Saru) se bod vir die 2023-toernooi op Nuweland of Kingspark gespeel nie. Ellispark, die toneel van Suid-Afrika se roemrykste van alle oorwinnings in 1995, kry ʼn troosprys: die uitspeelwedstryd om die derde plek.

Sou dit die prys wees vir die regering se laat instemming om die bod te onderskryf nadat hy Saru aanvanklik verbied het om ʼn bod in te dien?

ʼn Mens sal nie weet nie.

Een ding kan met sekerheid verwag word: sou die bod Woensdag op Suid-Afrika toegeslaan word, sal nog geld in die sokkerstadions ingepomp word om dit verder met die oog op 2023 te verbeter. Nuweland, Ellispark en Kingspark sal die groot opknappingsgeld ontbeer en heel waarskynlik mettertyd vanweë gebrekkige mededingendheid hul toetsstatus verloor.

Die geraakte rugbyunies sal ook geen verdienste put uit die verhuring van hul stadions aan die RWB-organiseerders nie. Daardie geld sal in ander hande beland en vir rugby verlore wees.

Kan veral die Westelike Provinsie dit bekostig?

Tot dusver is die Sharks se uitvoerende hoof, Gary Teichmann, die enigste wat hom hierteen uitgelaat het, en dit wil lyk of die WP en die Goue Leeus hulle dit laat welgeval.

Luidens berigte het Teichmann die besluit as “gek” bestempel, en hom ʼn brander van Saru op die hals gehaal.

Drie jaar gelede het die WP nog heftig daarteen geskop, en verskeie redes aangevoer waarom ʼn rugbyskuif na die Kaapstad-stadion onprakties was. Wat het intussen verander?

Luidens die inligting oor die bod wat bekend gemaak is, word die openingswedstryd, die halfeindstryde en die eindstryd vir die Nasionale Stadion tussen Johannesburg en Soweto beplan.

Ellispark kry, soos gemeld, die uitspeelwedstryd vir die derde plek.

Twee van die kwarteindstryde is bepaal vir die Moses Mabhidastadion in Durban, en die ander twee vir die Kaapstadstadion.

Die groepfase sal, na wat voorgestel is, in die Vrystaatstadion in Bloemfontein, die Mbombelastadion in Nelspruit, die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth, en op Loftus Versfeld in Pretoria afgehandel word – grootliks in die Noordelike helfte van die land.

Só word Suid-Afrika se eens glansryke rugbyerfenis verder weggekalwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Gerhard ·

Is dit nodig om ons te ontstel oor die rigting wat Saru inslaan. Ons “glansryke rugbyerfenis” kan nie deur hulle uitgevee word nie. Springbokrugby is lankal nie meer ‘n saak waarop die ware ondersteuner trots kan wees nie. Ons kan ons net verlustig in die trotse verlede van ware Springbokrugby. Of hierdie huidige trotslose span in Soweto, Mamelodi of Merweville speel pla my geen duit nie.

Venetia ·

Ek twyfel of enige regsdenkende ware Springbokondersteuner teen 2023 nog rugby gaan kyk as dit gaan soos dit nou gaan!

MANIE ·

Ek hoop nie ons kry die wereldbeker. Ons sit met n rassistiese gekieste span deur die anc goedgekeur. Vir dieselfde rede is ons destyds uit wereld rugby geskop

skollie ·

Hoekom sou jy nie jou beste en modernste stadions gebruik vir die Wereldbeker nie, dis mos logika.

Leon ·

Tradisie is belangrik. Daarom is dit moeilik om te sien hoekom ons tradisionele stadiums uitgelaat is. Maar, die argument blyk te wees dat juis dit, tradisie, nie meer ‘n tweede gedagte werd is by die nuwe rugbybase nie. Dit maak sin- hul nuwe nasionale span moet eerder verteenwoordigend wees, en nie uitnemend, soos in die goue jare van rugby in SA , nie.

AM ·

Hou in gedagte dat Kingspark beslis nie wêreldstandaard is nie agv die feit dat die paviljoen te regop is en nie veilig is vir ontruiming nie. Nuweland en Ellispark het nie voldoende toegansroetes veral in geval van ‘n ramp. Deesdae moet die organiseerders bewys dat hul als in hul vermoe gedoen het rakende die veiligheidsaspekte.

Veritas ·

En wie gaan daar rugby kyk ? Met die Bokspan wat so pateties is, sal dit ‘n wonder wees indien enige stadion vol skares sal lok.

Arie ·

Hoop Ierland kry dit! Ons verdien dit nie wonder of geld gepraat het

Arie ·

Hoop Ierland kry dit! Ons verdien dit nie wonder of geld gepraat het

Seeklong ·

Geen rede om opgewonde te raak nie mense, Ierland het Saterdag reeds die bod ingepalm.

Callie ·

Gee die bod vir SA. Maksimum twee jaar van nou af hardloop julle soos afkop hoenders rond om n nuwe land te kies. Is hulle regtig so slim as wat hulle dink. Die land gaan dit nie maak tot 2023 nie, sy rugbyspan maak dit nie eers tot 2019 nie

ChrisE ·

Lui die slagspreuk, “no normal sport in an abnormal society” enigsins ‘n klokkie. Die wiel draai, maar hy draai stadig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.