Is Duane Vermeulen ʼn beter keuse as Jaco Kriel?

Jaco Kriel – is hy nie die aangewese Bokflank nie? (Foto: GB Jordaan).

Dit sal darem baie onregverdig wees as Jaco Kriel, en sommer ook Kwagga Smith, oor die hoof gesien word wanneer die Springbokspan later vanjaar gekies word.

Dit is ʼn feit dat Duane Vermeulen deur die aangewese Springbokafrigter, Rassie Erasmus, na Suid-Afrika teruggelok sal word wanneer sy kontrak by die Franse klub Toulon aan die begin van Junie verval.

Vermeulen wil glo eers ʼn draai in Japan maak om sy pensioen vir oulaas aan te vul voordat hy permanent na die land terugkeer. Hy sal wel beskikbaar wees vir die toetsreeks teen Engeland in Junie (maar glo nie vir die Rugbykampioenskap nie) en ook vir die jaareindtoer na Europa, en vir aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan … en dis hoekom hy in Erasmus se visier is.

Hard, fisiek, balvaardig en ervare.

Wanneer Vermeulen, 31, terugkeer, sal hy na alle waarskynlikheid flank toe geskuif word, met Warren Whiteley (agtsteman) en Siya Kolisi (flank) wat die twee ander rolle in die lostrio sal vul.

Maar as die haker Malcolm Marx sou seerky, wie gaan die baljagter wees, die eerste speler by die afbreekpunte wat strafskoppe afdwing?

Verdien Kriel (en Smith) nie eerder ʼn kans om bo Vermeulen (asook Francois Louw as hy weer betrek sou word) ingespan te word nie?

Is Uzair Cassiem, Oupa  Mohoje en Jean-Luc du Preez, wat almal verlede jaar bo hulle verkies is, werklik beter?

Watter Suid-Afrikaanse span het die afgelope twee jaar in die eindstryd van die Superreeks gespeel?

Onthou jy nog vir Jean-Pierre Rives, Boland Coetzee, Burger Geldenhuys, Heinrich Brüssow, Neil Back, Michael Hooper, Phil Waugh en David Pocock?

Hoeveel keer het hulle besit gewen, omgekeer, stadiger gemaak, duikslae uitgevoer?

Maar nou ja, dis elke afrigter se prerogatief om te kies wie hy wil om by sy spelpatroon aan te pas … maar net as die Bokke wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nico ·

Rassie is ook maar bevooroordeeld soos meeste sogenaamde groot afrigters en dit veroorsaak meeste van die tyd hul ondergang. Vra maar vir Mellet, Meyer en Coetzee net om enkeles te noem. Vermeulen wil ek nooit in enige van my spanne sien nie al is hy bereid om sonder vergoeding te speel. ‘n Afrigter wat sy sout werd is sal ‘n sterk span kan bou met die spelers wat tans in SA is.
Hulle moet ophou om spelers te kies wat moet speel soos hy wil. ‘n Goeie afrigters sal spelers kies op hul sterk punte en dan daarmee ‘n patroon skep en vele welslae behaal en ja ook die William Webb Ellis troffee wen.

LOSKOP ·

Los Vermeulen waar hy is. Hier is baie beter spelers as hy in S A , Kriel, Smith wat hul geld hier verdien en nie hul brood aan albei kante gebotter wil he nie.
Stem saam Nico enige afrigter wat sy sous werd is, sal n baie sterk span kan kies van spelers wat net in S A speel

Louis ·

Hoe gouer Duane van die toneel af verdwyn, hoe beter. Beide Jacob en Kwagga is baie beter as hy.

Blikkies ·

Kyk, Kwagga is ‘n legend, en jy moet jou Legends speel. Gee hom ‘n kans. Die man het n hart groot genoeg vir die hele span. Speel hom, gister al!

Boerseun ·

Asb!!! Gee ons die Kriel-missiel en sommer Kwagga ook! Die Springbokspan het ook nie soveel diepte op die bank in onlangse tye wat enige iemand na hul asem laat snak nie. Kyk waarmee jy kompeteer deesdae. Jy het flanke wat baie meer vlugvoetig en beweeglik is. Ouens wat die gapings eerder as die man aanval. Duane is nie daardie tipe speler nie. Hy is sterk maar kom baie lomp voor en gaan nou al jaar na jaar steeds penregop in, in meeste kontaksituasies. As ons dit kan uitwerk as toeskouers, wat van die skerp Eddie Jones en Steve Hansen? Ons kort die spoed, hoë werkverrigting, krag en beweeglikheid van ouens soos Kriel en Kwagga

Adam ·

Kriek raak weg in Internationale rugby daarom sal en Vermeulen kies saam met Kwagga en Whiteley

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.