Is Engeland werklik beter as die All Blacks?

england-logoDie Engelse rugbyafrigter, Eddie Jones, het nie meer baie hare oor nie, maar dié wat daar is, is vinnig besig om grys te word.

Jones het Saterdag in Cardiff nog ʼn paar bygekry toe Engeland Wallis met 21-16 in die Sesnasies-reeks geklop het nadat die vleuel Elliot Daly die wendrie in die 76ste minuut gedruk het.

“Ek het nou al my kom-gratis-uit-die-tronk-kaartjies opgebruik. Ek wil nie weer in daardie posisie wees nie,” het Jones aan bbcsport.com gesê nadat Engeland verlede week ook teen Frankryk met 19-16 deurgeskraap het.

Engeland het nou 16 agtereenvolgende toetse na mekaar gewen (15 onder Jones) en met ʼn oorwinning oor Italië in hul volgende wedstryd as ʼn amperse formaliteit, kruip die All Blacks se rekordgetal van 18 opeenvolgende wentoetse al hoe nader. As Engeland die Skotte ook klop, bly net die kragmeting met Ierland op 18 Maart oor om die rekord te laat spat.

Maar, is Engeland werklik die beste span in die wêreld as hy só speel? Die Engelse het die All Blacks tot dusver gesystap en hoe kan jy as die beste beskou word as jy nie teen die beste span gespeel en hom geklop het nie?

Ja, Engeland het Australië (vier keer), die Bokke (een keer) en Argentinië (een keer) geklop, maar wat van die All Blacks?

Engeland kon die All Blacks nog net sewe keer in 40 toetse in 115 jaar klop (vyf keer in Nieu-Seeland en slegs twee keer in Engeland) terwyl die All Blacks  32 oorwinnings behaal het en een toets gelykop geëindig het.

Engeland is desondanks dié swak vertoningslys steeds op die oorwinningspad, maar die span is kwesbaar. As dit nie vir die laerskoolfout is wat die Walliese losskakel, Dan Biggar, begaan het toe hy nie die bal op sy eie doellyn kon uitskop nie, maar middelveld toe, was Engeland se drome beëindig.

Jones is ʼn meester van kopspeletjies speel en Saterdag was dit weer die geval toe die dak van die Principality-stadion op Jones se versoek oopgehou is. Hy het met Wallis se koppe gesmokkel, want Engeland het vyf van sy ses oorwinnings oor Wallis onder ʼn oop dak behaal, terwyl Engeland vier van die vyf toetse met ʼn toe dak verloor het.

“Hulle kan die dak nou maar toemaak.

“Die dak moet oop wees, tensy toestande skokkend is. Dis hoe rugby gespeel moet word, want dit is ʼn wintersport,” het Jones gesê.

♦  Ierland het in Rome maalvleis van Italië gemaak en nege drieë (drie deur die gewese Blou Bul-flank CJ Stander) gedruk in sy wegholsege van 63-10. Dit wys net dat Ierland verlede week teen Skotland te stadig uit die blokke was, dat hulle straks die Skotte onderskat het en dat hulle ver benede peil was.

Ek lek nou al lippe af vir die Iere se kragmeting op 18 Maart met Engeland.

Na Saterdag se afranseling, moet die vraag gevra moet word of Brendan Venter nie sy tyd mors as Italië se verdedigingskonsultant nie. Ja, hy het ʼn groot rol  agter die skerms gespeel toe Italië verlede jaar die Bokke geskok het (wie het nie?), maar kan hy werklik ʼn verskil binne ʼn paar weke maak?

As dit wel waar is dat sy kontrak met die Italianers die groot struikelblok is waarom die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (wat hom beslis in ʼn ander hoedanigheid wil betrek) nog nie oor Allister Coetzee se toekoms kan besluit nie, sal daar diep daaroor nagedink moet word.

♦  Skotland speel Sondagmiddag teen  Frankryk. Dit kan ook ʼn riller wees nadat die Skotte verlede week vir Ierland verras het en Frankryk so amper-amper vir Engeland laat struikel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.