Is goed genoeg ook oud genoeg?

Curwin Bosch (Foto sharksrugby.co.za)

Moet Curwin Bosch nou al vir die Bokke gekies word?

Dis een van die moeilikste besluite vir enige afrigter of keurder om te neem, om te besluit wanneer ʼn speler ryp genoeg is vir toetsrugby, eintlik vir enige rugbyspan, om eerlik te wees.

Die nasionale keurders (is daar nog sulke mense?) staan nou voor daardie keuse, want die 19-jarige Bosch is straks goed genoeg om vir die Bokke oorweeg te word.

Aan die een kant word daar gevra hoekom nou al, want sy loopbaan lê nog voor. Hy speel in Mei vir die Junior Bokke in die o.20-Wêreldkampioenskap, maar is reeds betrek by die Bokke se oefenkamp in Stellenbosch.

Aan die ander kant speel hy reeds Superrugby, saam met die manne met die hardebaarde en blomkoolore.

Maar ʼn mens sal nie weet voordat daardie besluit nie geneem is nie.

Volgens die rekordboeke is Ignacio Martin Goenaga die jongste speler wat al toetsrugby gespeel het. Hy was net 16 jaar en 141 dae oud toe hy in 2000 vir Spanje teen Uruguay gespeel het.

Ja, dit was maar net Spanje teen Uruguay, maar ʼn mens kan mos in enige wedstryd of oefening seerkry.

Die Rus Sergey Belousov was net ʼn dag ouer toe hy in 2006 vir Rusland  teen die Oekraïne gekies is.

Die jongste Bok was Jack Hartley, wat 18 jaar en 18 dae oud was toe hy in 1891 vleuel vir Suid-Afrika teen Brittanje  gespeel het. Hy het in net een toets gespeel, hoekom weet ons nie.

Was Naas Botha te vroeg en te jonk gestoot? Nee, hy was reg bestuur en het gaandeweg in ʼn legende ontwikkel.

Was Johan Goosen te jonk, wat van die Du Preez-tweeling, wat van Ruan Ackermann?

Die Italiaanse kaptein, Sergio Parsisse, was net 18 jaar en 269 dae oud toe hy sy buiging in 2002 gemaak het en hy het reeds 126 toetse op sy kerfstok.

Wat van Australië se drie Ella-broers (Mark, Glen en Gary) wat reeds op skolevlak amok gesaai het.

Ja, maar wat van die honderde ander rugbyspelers wat te vroeg ryp gedruk is?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

wicus ·

AS JY GOED GENOEG IS ,IS JOU OUD GENOEG, PASOP NET VIR BESERINGS

Boerseun ·

Ag asb. Na een wedstryd teen een van die traditioneel swakker spanne en hy is nou sommer n bok 10. Laas jaar was dit April, waar is hy nou? G’n wonder bokke is so swak.

Nico K ·

Ek is daarteen dat hulle ‘n man te vroeg speel. Party kan daar deur kom en ‘n lang loopbaan hê, maar daar is baie meer wat jonk weer verdwyn het. Net een swak toets op ‘n jong ouderdom kan selfvertroue knak. Gaffie du Toit het 1 so toets gespeel en was nooit weer dieselfde. Laat die man selfvertroue en ondervinding kry. Ek glo vas ‘n losskakel moet ondervinding hê. Hy is die planmaker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.