Is Mapimpi steeds ʼn Cheetah of gaan hy tóg Durban toe?

Makazole Mapimpi op pad doellyn toe met die Ospreys se James Hook wat nie kan keer nie. (Foto Pro14 – Facebook Cheetahs)

Gaan hy of bly hy? En hoekom word daar nie oop kaarte met die ondersteuners gespeel nie?

Dit is nou oor die groot driedruksensasie Makazole Mapimpi wat ʼn mens kop krap. In November het die Sharks bekend gemaak dat dié vleuel, wat Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners met sy sterk hardloopstyl en lyfswenk laat regop sit het, in 2018 by hulle sal speel.

En nou, kwalik ʼn maand voor die afskop van die geherstruktureerde Superreeks, word hy weer vir die Cheetahs vir Saterdag se Pro14-wedstryd teen die Italiaanse span Benetton gekies.

Hy het glo nog drie wedstryde vir die Vrystaters oor voordat hy Durban toe verhuis.

Maar gaan Mapimpi sonder enige voorbereiding saam met die KwaZulu-Natallers vir hulle in die Superreeks uitdraf of bly hy ʼn Cheetah?

Niemand wil praat nie, hoewel hy glo na 23 Januarie kus toe vertrek.

♦  Die Cheetahs het ál drie hulle beskikbare Springbokke gekies. Francois Venter, Uzair Cassiem en Oupa Mohoje bring ervaring en gehalte na ʼn span wat die Pro14-teenstanders met hulle vurige spel in Bloemfontein verras het.

Saterdag kry hulle kans vir ʼn tweede oorwinning oorsee.

Clayton Blommetjies het griep, en Tiaan Meyer sal sowat ses weke met ʼn liesbesering langs die kantlyn staan.

Cheetahs se toergroep –

Craig Barry, Rynier Bernardo, Tom Botha, Uzair Cassiem, AJ Coertzen, Johan Coetzee, Luan de Bruin, Jacques du Toit, Joseph Dweba, Reniel Hugo, Nico Lee, Makazola Mapimpi, Charles Marais, Niel Marais, Zee Mkhabela, Oupa Mohoje, Ox Nche, Junior Pokomela, Paul Schoeman, William Small-Smith, Torsten van Jaarsveld, Francois Venter, Shaun Venter, Charl Wegner, Fred Zeilinga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John Lewis ·

Lyk of die gulsige banana boys weereens besig is om droog te maak uit gierigheid soos toe hulle Lionel Mapoe by Vrystaat destyds gevat het. Mapoe toe n klomp maande uit rugby gewees agv hofstryd, hoop nie geval met Mapimpi ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.