Is Morné Steyn nog goed genoeg vir die Boktrui?

Morné Steyn in aksie teen die Stormers. Foto: GB Jordaan.

As een swaeltjie nie die somer maak nie, dan behoort een van 36 jaar oud nie veel tot hierdie somer-vervaardigingsproses by te dra nie, of hoe?

Maar as daardie veteraan-swaeltjie nog by die jonges kan kers vashou, terwyl hy die rigting van die swerm se vlug met een goed berekende vlerkklap kan bepaal, is hy sy gewig in goud werd.

Morné Steyn het die afgelope naweek die horlosie teruggedraai om ’n amper foutlose vertoning teen die Stormers op Loftus Versfeld te lewer. Sy stelskoppe was so akkuraat soos altyd, terwyl sy agter-die-rug-aangee om vir Stedman Gans weg te stuur selfs die talentvolste hoërskoolspeler sal beïndruk.

Die 36-jarige losskakel is tans die voorste puntemaker (47 punte) in die reeks en hy het Saterdag die veel jonger Damian Willemse heeltemal oorskadu.

Maar is hy nog goed genoeg om die Boktrui oor sy kop te trek?

“Goeiste, as jy my aan die begin van die jaar gevra het, sou ek waarskynlik vir jou ’n ander antwoord gereed gehad het. Maar as ek net kyk hoe hy deesdae speel… ek dink as dit nie vir hom was nie, sou die Bulls dalk meer in ván die wedstryde gesukkel het,” het die Cheetahs se Chris Massyn aan Maroela Media gesê.

Foto: GB Jordaan.

“Die ervaring wat hy na die partytjie bring, is goud werd. Ek dink hy het beslis nog baie om te bied, veral met Handré Pollard wat op die krukkelys is.”

Die voormalige Blou Bul-skrumskakel Conrad Breytenbach meen ook dat Steyn se ervaring van onskatbare waarde is.

“Elke losskakel het net ’n paar sekondes tyd om ’n goeie besluit te neem. Te danke aan sy ervaring en huidige goeie spelpeil voel daardie sekondes seker vir Morné Steyn soos vyf minute en hy kan sy span op die voorvoet plaas,” het Breytenbach gesê.

“Teen die Stormers het die Bulls se voorspelers die spel oorheers terwyl Ivan van Zyl se diens ongelooflik flink agter die skrum was. Dit het vir Morné die nodige tyd en spasie gegun om die spel te dikteer.”

  • Steyn het in 66 toetse vir die Springbokke gespeel en 736 punte aangeteken. Hier is van sy rekords:

* Wêreldrekord vir ʼn speler wat al sy span se punte in ʼn toets aangeteken het (31).

Foto: GB Jordaan.

* Meeste punte teen die All Blacks in ʼn toets (31).

* Vinnigste by 100 toetspunte (agt toetse, drie as plaasvervanger).

* Vinnigste by 200 punte (16 toetse).

* Vinnigste by 300 punte (24 toetse).

* Vinnigste by 400 punte (33 toetse).

* Vinnigste by 500 punte (43 toetse).

* Vinnigste by 600 punte (50 toetse).

* Vinnigste by 700 punte (62 toetse)

* Meeste skepdoele in ʼn Superrugbyseisoen (11 in 2009).

* Meeste strafdoele in ʼn Superrugbyseisoen (51 in 2010).

* Meeste punte in ’n Superrugbyseisoen (263), wat Carter se 221 punte in 2006 verbeter het.

* Meeste punte deur ʼn speler van die Bulls in Superrugby (1 467 in 124 wedstryde – vóór die Unlocked-reeks).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Androclus ·

Hy kan nog n’ keer ‘n Springboktrui oor sy kop trek al is dit die laaste keer.

Anoniem ·

Soos hy tans speel, definitief ja, daar is niemand anders wat tot dusver eers in skaduwee gesien word nie.

B-Man ·

Stormers kan bly wees dat spel gestop is weens swaar weer. Bulle het hulle behoorlik bestorm!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Wonder wanneer daardie trein uit stoom gaan hardloop…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.