Is ʼn Nieu-Seelander die antwoord?

springbokDie name van Nieu-Seelandse rugbyafrigters word nou links en regs rondgegooi nadat daar Sondag bespiegel is dat Dave Rennie se naam in die hoed is om by Allister Coetzee as afrigter oor te neem.

Afgesien van Rennie, wat die Chiefs tot twee Superrugbytitels in 2012 en 2013 gebrei het, word die name van John Plumtree, John Mitchell, Robbie Deans, Graham Henry en Vern Cotter ook genoem.

Ook Rassie Erasmus, wat nou Munster se direkteur van rugby is, en  selfs Jake White van Montpellier,  word as moontlike opvolgers genoem.

Werklik?

Is dit nie net ʼn weerligafleier om die Suid-Afrikaanse ondersteuners se bloeddruk laag te hou nie?

Rennie het reeds ʼn kontrak onderteken om ná die Superreeks die Glasgow Warriors af te rig. Hy is aangestel om Gregor Townsend te vervang, wat die leisels as Skotse afrigter by Cotter neem. Wie gaan betaal om Rennie uit sy kontrak los te wikkel? Wie gaan betaal om Coetzee, en lede van sy bestuurspan, ʼn goue handdruk te gee?

En dan die heel grootte struikelblok: hoe gaan enige Nieu-Seelander inkoop by Saru se transformasieteikens?

Saru is van plan om tussen 9 en 12 Desember drastiese stappe te neem wat verreikende gevolge kan inhou.

Coetzee en sy span sal ondermeer (glo Maandag) terugvoer gee en dan sal daar oor sy toekoms besluit word. ʼn Besluit oor die kies van oorsese spelers sal neergepen word,  en die formaat van die Curriebeker-reeks (ses, sewe of agt spanne) moet bepaal word.

ʼn Besluit om derde partye ʼn meerderheid aandeel in unies te gee, sal bespreek word. Daar sal nuwe franchise en nie-franchise-komitees gestig word om aanbevelings te doen oor die onderskeie reekse en spelaangeleenthede. Die onafhanklike lede sal tot vier uitgebrei  word en die spelers sal ook ʼn verteenwoordiger hê.

Dit klink amper te goed om waar te wees, maar dit is beslis die regte stappe in die regte rigting. Dis jare lank al bepleit, maar kon nog nooit deurgevoer word nie.

Suid-Afrikaanse rugby staan op die rand van die afgrond en as dié dringende stappe nie nou geneem word nie, sal die bloeding nie gekeer kan word nie … ook wat die aanstelling van die Bok-afrigter betref.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

callie ·

Jare lange kwotas het die standaard stelsematig verlaag. Daar is nou net een manier. Die regering en Saru bly uit sport uit. Geen kwotas. Die beste man word gekies en die span deur die beste afrigters korps afgerig. Dit beteken die reserwes is ook die bestes en nie kwotas nie. Selfde met super spanne, curriebeker spanne, klub en skole spanne. Dit sal dan nog steeds minstens 2 jaar neem om weer n krag te word. Die pietsers wat nie glo daar is kwotas nie help met hoeveel van oor die 350 SA spelers oorsee is nie wit nie. Net die Habanas wat wereldklas is

Anton ·

Ek stem volkome saam jou.Maar jy weet net so goed soos ek dit sal NOOIT gebeur nie

Waghond ·

‘n Oorsese afrigter, verkieslik ‘n Nieu-Seelander moet oorneem. Baie oorsese doen dit. Daar moet van AC ontsla geraak word sonder enige vergoeding, want hy kon net mooi niks uitrig nie. In die proses het hy Springbokrugby groot skade berokken. Met die resultate wat hy vanjaar opgedis het, kan hy op niks aanspraak maak nie. Hy het Zum ) nie enige skuldgevoelens en die gewete nie, anders sou beide self bedank het.

Callie van der Merwe ·

Ek is ook n profesionele persoon en realiteit is eenvoudig so dat ek in die pad gesteek sal word as ek nie my werk doen nie! Ek gaan verseker geen vergoeding daarvoor ontvang nie. Stem saam dat AC geen gewete het nie anders sou hy self geloop het. Hy is totaal uit sy diepte of hy dit wil weet of nie. As daar nie drasties verander word nie boikot ek rugby verseker. Dit sluit DSTV in wat ek net het vir sport en hoofsaaklik rugby!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.