Is oorsese Bokke die antwoord?

Steven Kitshoff (Foto rugby-scapulaire.com)

Steven Kitshoff (Foto rugby-scapulaire.com)

Dit help nie meer om verskonings te maak of verduidelikings te gee nie, daar moet die een of ander tyd  oop kaarte gespeel word wanneer dit by die kies van die Springbokspan kom.

Hoe anders verduidelik ʼn mens die insluiting van sewe spelers wat oorsee hul brood en botter verdien in die Springbokgroep van 31 spelers vir die Rugbykampioenskap?

Daar word volgehou dat die Bokafrigter, Allister Coetzee, voorkeur aan plaaslike spelers gee, maar is dit waar?

Is Morné Steyn ʼn beter belegging vir die toekoms as ʼn plaaslike jongeling? Sal Duane Vermeulen bo Warren Whiteley of Jaco Kriel ingespan word? En wat van Warwick Tecklenburg? Skrum Steven Kitshoff beter as die plaaslike stutte?

Die Suid-Afrikaanse rugbybase moes jare gelede al ʼn beleid vasgepen het, maar hulle het dit aan die Bokafrigters en -keurders oorgelaat om die probleme te systap. Daar is te veel skuiwergate, te veel goeie spelers wat in Japan, Frankryk en Engeland speel.

Om nou in te gryp is te laat, want die pond en jen is ʼn baie groter lokmiddel as die Boktrui, al sal die nuwelinge ons oor die volgende tien dae vertel oor daai oproep wat hulle ontvang het, oor die hoendervel wat hulle gekry het toe hulle die Boktrui oor die kop getrek het.

Dis nie hulle skuld nie, hulle het ook drome gehad.

Dis ʼn deurmekaarspul. Spelers wat net vir ʼn paar maande in Japan speel, dan weer Superrugby speel en dan ander weivelde in Frankryk en Engeland soek. Ander teken langtermyn-kontrakte oorsee en niemand kan hulle kwalik neem nie.

Dis byna soos die Indiese Premierliga in krieket. Niemand skiet dit af nie, want dis die gans wat die goue eiers lê.

Intussen moet die Bokbreier almal tevrede probeer hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ben ·

Nee hulle is nie die antwoord nie los hulle , hier is genoeg plaaslike talent gee hulle goeie geld en hou hulle hier
Dit sal hul okk motiveer om vir sy land te speel

Koos ·

En dan vergeet ons ook die diskriminerende kwota stelsel waar jy nie op meriete gekeur word nie maar op velkleur wat ‘n verloor vir almal is want die swart spelers wat verdien om in die span te wees staan nou bekend as kwota spelers en die wit spelers kry nie span oor hulle wit is en die politieke leiers wat hierdie afdwing het verskuilde agendas.

Cobus ·

Kies die beste span moontlik. Indien verloor word is die skade verrykend. Geweldig baie van die land se beste spelers wat in die buiteland is dra ook by dat ‘n swakker gehalte rugby plaaslik gespeel word met die gevolg dat daar nog verder agteruit geboer word. Kies die beste altyd!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.