Is Rhule en De Allende werklik die beste?

Gert Muller – sou Raymond Rhule hom kon stuit? Of beter op die aanval vertoon? (Foto voorsien)

Ek wonder hoe Raymond Rhule teen Gert Muller of Ray Mordt sou gevaar het.

Ja, ʼn mens moenie net een speler uitsonder nie, ʼn mens moet ook na die deugde van ʼn speler kyk, hoe sy vaardighede ontwikkel het en watter waarde hy tot die Springbokspan kan voeg.

Maar dit maak ʼn mens bekommerd as die Springbok-keurpaneel (is dit Allister Coetzee en die een nasionale keurder, Peter Jooste, wat die span kies, of is daar invloede van buite?) tot die slotsom gekom het dat Rhule ʼn beter keuse as Ruan Combrinck is. Of dat Damian de Allende meer waarde toevoeg as Lukhanyo Am, Rohan Janse van Rensburg of Harold Vorster.

Kom ons wees eerlik, daar word eenvoudig nie ʼn span gekies waaroor daar nie vraagstukke hang nie. Dit het, en kom steeds in Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Engeland, Australië en Timboektoe voor. Soms is dit ʼn geval van ses van die een en ses van die ander.

Statistieke word gebruik, maar dis erg misleidend. Want hoe weeg jy nou ʼn speler se vaardighede op wanneer hy drie drieë teen byvoorbeeld die Sunwolves of Rebels gedruk het teenoor ʼn speler wat weekliks met die Crusaders, Chiefs en Hurricanes meegeding het?

In die ou dae het provinsialisme ʼn groot rol gespeel. Ek onthou hoe ons toeka se tyd nagmerries oor die insluiting van WP-spelers soos Wang Wyness, Mike Lawless en André de Wet in Springbokspanne gekry het. Ons het nie veel van hulle af geweet nie, behalwe om hulle een keer per jaar teen Noord-Transvaal of Transvaal te sien speel. As jou helde dan beter gevaar het, is daar gesê: “Sien, ek het jou mos gesê.”

Daar is proewe gehou, soms ʼn week lank, waar ses tot agt spanne sake uitgespook het met die keurders langs die veld bewapen met ʼn notaboekie en pen.

Op die laaste dag het die Moontlikes teen die Waarskynlikes gespeel en dan is daar ure daarna oor die span gekibbel.

Ja, Rhule was in die span in die onlangse reeks teen die Franse. Ja, die Bokke het met 3-0 gewen en ja, dis glo moeiliker om uit die span te kom as daarin.

Maar ek is steeds nie oortuig dat Rhule en De Allende die beste keuses is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Veritas ·

Ek onthou die dae van proewe asof dit laasweek was. Ek en my maats het dit nie gemis nie. Sakgeld was gespaar om skelm ‘n pakkie sigarette te kon koop en van toegang betaal was daar geen sprake nie. Die ou draadheining aan Loftus se oostekant het nie ‘n deurkruipplek gehad wat ons nie geken het nie. Boeta, ons sou wat wou gee en trotseer om ons helde te sien speel. Natuurlik wou ons die hele Noord Transvaalse eerste en tweede spanne in die Springbokspan sien. Daar was mos nêrens anders sulke goeie spelers nie. Dit was die goeie ou dae toe ‘n magdom reëls nie bestaan het nie. Vuilspel en ‘n steelhou so hier en daar, was gesien as inklimrugby en was dus nie strafbaar nie. Dit was die dae toe rugby nog ruby was. Nou se dae, met kykweer tegnologie, word al die lekker uit rugby geblaas.

Josua Keys ·

En meer spelers word met die nuwe reels beseer as wat daar met die ou reels beseer was, skrums het gevaarliker geword maar vir ons word vertel dit is beter, mag nie meer ‘n up en under af storm nie wand hardloop jy in die opposisie speler vas is dit vuil spel… snert man!!! om n speler se bene asspris onder hom uit te vat, met n skouer in die gesig te loop, of selfs n stuiwe arm of met die kop stamp of slaam met n vuis is vuilspel. Veritas ek stem 100% saam jou en die ergste val als is dat die ouens wat die reels maak of meeste daarvan, het self nooit rugby gespeel of moes nooit rugby gespeel het nie, dit is nie n spel vir sussies nie dit is n kontak sport en n spel vir manne maar sekere vuilspel stem ek saam, in Kwagga se geval was die beslissing pateties, die besering kon netsowel aan Kwagga se kant gewees het, hy was baie gelukkig om nie sy wangbeen te gebreek het of selfs harsingskudding opgedoen het nie, maar hy is uitgekryt as ‘n vuil speler …… what a joke!!!

Piet Pille ·

Veritas, ja die proewe was ‘n hoogtepunt en voorwaar ‘n duidelike maatstaf van spankeuse, maar helaas, indien dit moet terug gebring word, sal die kwotas ongeldig wees. De Allande en Rhule goed op provinsiale vlak maar…. Springbok nee, dit is ook hierdie leemtes waarop ons teestanders hul gaan toespits. Rhule geen verdediging en De Allende net stampkar.

Ben ·

Rhule is die swakste verdediger in Superrugby en die Nieu-Seelandse kommentators se dat hy nie vinnig kan omdraai om te gaan verdedig nie.Combrinck is myle beter as hy .Kolbe het nou die dag drie driee teen Rhule gedruk omdat hy nie kan verdedig nie.De Allende is lankal nie meer die speler wat hy was nie en die All Black senters gaan weer oor hom hardloop soos in Superrugby.Gaan maar moeilik gaan met die Bokke met hulle in die span.

gawie ·

Stem saam daar is beter as Rhule. Combrink kom egter van besering af en is nog nie op top vorm nie. As hy reg is, behoort hy nommer een keuse te wees. Ek is nie oortuig dat Van Rensburg en ander genoem beter as De Allende is nie. Van Rensburg kom ook van besering af en was nie eers eerste keuse vir die Lions gewees die afgelope paar wedstryde nie. Boonop reken ek die huidige senterpaar van Serfontein en Kriel het uitstekend gevaar sover (so die ander senters is nie eerste keuses in hierdie stadium nie)..

Frans C ·

In Suid Afrika moet ook die wense van die politieke meesters inag geneem word by die spankeuse .

Dirkie ·

Mnr Coetzee se glo vandag Combrink en Rohan was beseer en ook die groep teen Hane het goed gedoen daarom kon hy nie hulle kies nie. Hoe op aarde het jy toetie dan jou vriend De Allende gekies. Hy dan nog minder as hulle gespeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.