Is Ruan Pienaar nie dalk die oplossing nie?

Ruan Pienaar (Foto: Facebook)

Vergeet van Faf de Klerk, vergeet van Embrose Papier, vergeet van Ivan van Zyl.

As die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, volhou met sy huidige wedstrydplan, sal hy in die rigting van die 34-jarige veteraan-skrumskakel Ruan Pienaar moet kyk.

Pienaar, een van die groot weeskinders van Springbokrugby, het in 88 toetse gespeel, van 2006 toe hy sy buiging teen die All Blacks gemaak het tot in 2015 toe hy teen Argentinië in die Wêreldbeker-toernooi gespeel het.

Pienaar is ʼn buitengewoon begaafde speler, maar vanweë sy veelsydigheid is hy soos ʼn klimtol gebruik. Hy is vir opdrafspanne op skrumskakel, losskakel en heelagter gekies en het uit noodweer ook senter en vleuel gespeel wanneer daar beserings opgeduik het.

Die oud-Springbok-afrigter Jake White het hom in 2007 met die Wallabies-losskakel Stephen Larkham vergelyk. Dieselfde bou, dieselfde vaardighede, dieselfde kalmte wat hy uitstraal.

Pienaar het sy Springbok-pa, Gysie Pienaar, se rugbygene geërf en het 67 keer vir die Sharks se Superrugby-span gespeel. Hy het hulle ook 32 keer in Curriebeker-wedstryde verteenwoordig voordat hy oorsee is waar hy 141 keer vir Ulster in Ierland gespeel en die afgelope twee seisoene 13 keer vir Montpellier in Frankryk uitgedraf het.

Sy gunstelingposisie is skrumskakel, maar hy gedy ook in die nr. 10-trui, waar hy die toutjies kan trek, die besluite kan neem, die argitek van die agterlynplanne is.

Hy kan, soos hulle in die ou dae gesê het, die bal met sy taktiese skopwerk “op ʼn tiekie neersit”. Boonop is sy aangeë suiwer, hy kan steeds vlymskerp breek en hy is boonop ʼn stelskopper van formaat.

Is hy te oud?

Kyk maar gerus as Montpellier weer speel. Hy het baie min van sy vaardighede verloor. Benewens die Ierse skrumskakel Conor Murray (Munster) is Pienaar die tweede beste taktiese skopper in wêreldrugby.

Dit laat ʼn mens dink of Erasmus (en sy verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber en die Wallieser Aled Walters wat, onder meer, ook na die Bokke se fiksheid omsien, en wat al drie ook by Munster was), nie vir Murray in ʼn Springboktrui wil kloon nie.

Die Bokke het nou teruggeval op ʼn wedstrydplan waar die skrumskakel met taktiese skopwerk moet oorheers en die bal in die teenstander se helfte hou.

Maar nie een van De Klerk, Papier of Van Zyl kan dié wedstrydplan oënskynlik met groot welslae uitvoer nie.

♦ Dit laat my terugdink aan nog ʼn oud-Springbokskrumskakel Dirkie de Vos, wat destyds die nerwe van die ou leerbal in daardie dae afgeskop het.

De Vos het in net drie toetswedstryde gespeel, want hy moes met Dawie de Villiers en Nelie Smith meeding.

Ek onthou hoe De Vos in ʼn klubwedstryd vir Oostelikes in Pretoria die bal nie een keer in die eerste helfte uitgegee het nie.

Rustyd, terwyl die spelers aan hul lemoene gesuig het, is daar besluit dat De Vos darem ook die bal moes uitgee.

Dit het toe kort ná rustyd gebeur, maar die arme losskakel het die bal toe aangeslaan.

“Sien, dis hoekom ek nie bal pass nie,” het De Vos gesê en toe maar aanhou skop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Callie ·

Die berig gewer is sekerlik nie ernstig nie. Asb, Pienaar moes nie eers in sy laaste 10 toetse gespeel het nie

Genieve ·

Daar kan nog van Ivan van Zyl vergeet word maar nog nie van Papier nie nee o flip Ivan wat het hy op die veld kom maak???

Johan ·

Na Saterdag se geploeter teen Wallis dink ek ons het groter probleme as net om na skrumskakel te kyk!

En om te dink die spelers word betaal om sulke snert op te dis!!!!!

kallie ·

Net nie meerkat nie, asb. Faf en Papier is reg. Faf moet net minder skop.

LOL ·

Stem saam met Pieter; indien die skoppery die gekwose taktiek is moet ons wyer kyk as wat op toer was. Wat ‘n jammerte ons Afrikaans sprekende afrigters wou nooit vir Rory Kockott ‘n kans gee en ons moes hom afstaan aan Frankryk- hy kon ‘n legende geword het en as stelskopper opsie gebruik word- kyk weer as Castre’ speel.

MJ ·

Dis hartseer dat ons nou al moet dink aan iemand wat nooit eers Springbok moes speel nie as ‘n oplossing.
Asb Rassie, net nie Pienaar nie. Vorm eerder die huidige keuses se spelpatroon dat hul volgende jaar kompeterend kan meeding…
Faf is definitief die eerste opsie met Papier die 2de opsie. Van Zyl kan ook maar by die huis bly na Saterdag se spel…

Veritas ·

Enigeen wat Ruan Pienaar in die Bokspan wil hê, moet sy kop laat lees.

Johan ·

Maak Hele springbok span Swart,dan is alle probleme opgelos

Arie ·

Pieter jy is heel mal – gelukkig is jy nie by afrigting betrokke nie, ek lees nie eintlik jou artikels nie want dis gewoonlik ‘n klomp bol

LR ·

Kom ons aanvaar dit nou. Ons het net nie meer die begaafde spelers van ouds nie, ook geen diepte nie. Daar is miskien so hier en daar n speler wat n bietjie beter is as die res.
Het al die getal van 300 spelers wat oorsee speel gehoor. Neem hulle nie kwalik nie. In SA moet jy net n “flash in the pan” vertoning as n gekleurde speler hê dan skop die beginsel politieke korektheid in ek almal is kamstig gaande oor die nuwe ondekte talent en siedaar n nuwe sprinbok is gebore.

Nico ·

Ja en ook vir Is Durant, Joel Stransky, Danie Gerber, Bryan Habana, Hannes Strydom, Kobus Wiese en ‘n hele paar ander pensionarisse.

Christi ·

Schalk Brits, Gio Aplon en nou Ruan Pienaar. Bring dan maar sommer vir Danie Gerber, Carel Du Plessis en al die oud spelers terug. Onthou net om vir Morne du Plessis as kaptein te kies…hy was mos ń WP man.

Derick ·

Die grootste probleem is spelers uit posisie. Pollard begin settle as goeie 10, maar word senter toe geskuif om plek te maak vir Jantjies wat nie daar hoort. Ons is een van die lande met die meeste spelers, waarom hulle uit posisie speel. Kry verdomp ‘n ordentlike senter paar, daar is meer as genoeg in die land en leer vleuels om in hul lyn te verdedig. Raak ook sommer ontslae van Willie Le Roux wat te wisselvallig is. Laastens raak ontslae van Stick. Ons het oorgenoeg spelers en hulpafrigters van ALLE kleure om die agterlyn probleme op te los.

LHS ·

Jantjies is die enigste losskakel wat met voetaangee sy vleuels laat driee druk. Hy kan skepskop wat Pollard nie kan. Willie le Roux en Faf is wedstrydwenners omdat dinge gebeur as hulle aan n bal vat, alles werk nie altyd, maar ten minste het hulle daardie iets wat ander nie het. Jantjies is presies dieselfde as hy gelos word om sy natuurlike spel te speel.Pollard is so tegnies korrek as losskakel, n model wat al die basiese briljant kan doen maar ongelukkig wen basiese spel nie wedstryde nie.

Johan ·

Nee wat, Pieter – nou’s jy heeltemal die kluts kwyt! Hier’s die beeld wat ek van Ruan Pienaar in die Springbok-skrumskakeltrui het: Die bal kom uit die losskrum, Ruan tel dit op, steek langsaam ‘n been na agter of sydelings uit, voel-voel so ‘n bietjie om seker te maak dat die been stewig geplant is, dink dan goed na oor wié die bal moet ontvang, oordink dit weer, steek vinnig ‘n skietgebed oor die juistheid al dan nie van sy voorneme af, besin ‘n laaste keer oor sy besluit en gee dan einde ten laaste die bal uit. Jy kan nou maar vir jouself dink wat die teenstanders in die tussentyd gedoen het en moet dan jou voorstel dat ons Die Luidier op skrumskakel terugbring deeglik oorweeg. In hedendaagse rugby is skrumskakels net troefkaarte as hulle die spel kan lees, doeltreffend kan skop en die bal trefseker en BLITSSNEL kan versprei. Al sy sterkpunte desnieteenstande kan Ruan Pienaar eenvoudig nié laasgenoemde doen nie.

L ·

Nie een van die huidige vleuels gaan dit maak teen topspanne nie, enige vinnige persoon kan driee druk as daar n opening voor hom is, ongelukkig is dit alleen nie genoeg nie. Senters bepaal die spel van die agterlyn, dit is nou as die skakelpaar die bal sekuur kan versprei, per hand of per voet. Ten minste een senter moet dodelik kan verdedig, die binnesenter veral moet visie he, grondskoppies, kort lug skoppies oor die opponente, blitsig n gat kan slaan maar belangrikste balverspreiding of uitgee of per voet. Trek opponente verdediging op hom, hou hulle aan die raai, kom deur die verdedigingslyne maar sorg dat buitesenter die bal kry wat dan indien self kan gaan of vleuel /heelagter toe. Nie een van ons huidige binnesenters is rugbyspelers nie, stormramme miskien en daar gaan die bal dood.

nico k ·

Ek stem saam met LHS. Willie le Roux doen die ongewone ding en het al baie drië gemaak. Dit werk nie altyd nie, maar probeer liewer iets as om veilig te speel maar nie driee te druk nie. Ek weet nie of Faf op instruksie speel nie, maar daardie skopwerk van die skrumskael werk nie. Die enigste nut wat dit het is om balbesit af te staan.

SjN ·

Wat van Robert du Preez op skrumie en al sy seuns ook in, dan hou hul dit in die familie.

Johan ·

Sien jyt n voorkeur verhouding met die Pienaar familie.LOS asb Vir Papier en Pollard.Bring Vir Rhaun Janse van Rensburg in op 12,hy verdedig goed,is onvoorspelbaar,is sterk en kan direk speel as dit moet.Nie Jan nie,dan Willie met sy tierlanteintjies en wisselvalligheid gaan jou kos in uitspeel wedstryde in WB.Kies APLON op 15 met GALANT sy adjudant of KOLBE as die vleuls Moet bly soos is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.