Is Saru se verklaring slegte nuus vir Allister?

Rassie Erasmus (Foto: Twitter)

ʼn Mens kan nie help nie om te wil vermoed dat Dinsdag se BokSmart-verklaring deur die SA Rugbyunie (Saru) die einde van Allister Coetzee se pad as Springbok-afrigter help aandui.

Die verklaring lui dat Rassie Erasmus, Saru se nuwe direkteur van rugby, en ander lede van die rugbyafdeling, insluitende Jacques Nienaber en Mzwandile Stick, die jongste BokSmart-sertifisering afgehandel het namate die voorbereiding vir die 2018-seisoen op dreef kom.

Die sertifisering rus afrigters en skeidsregters toe met die kennis en vaardigheid om rugyveiligheid en basiese mediese en beseringsvoorkomende praktyke toe te pas. Die kursus is verpligtend vir almal wat rugby in Suid-Afrika wil afrig of as skeidsregter wil optree ongeag die vlak waarop dit geskied.

Dis mos vanselfsprekend dat bogenoemde mense aan die BokSmart-vereiste moet voldoen – eintlik selfs voordat hulle in hul poste aangstel is.

Waarom dan bogenoemde drietal uitsonder by wyse van ʼn nuusverklaring?

Daar word wyd bespiegel, en Pale Toe! het reeds daaroor berig, dat dié drie onder andere die span vorm wat ʼn waarskynlik afgedankte Coetzee en sy huidige afrigtingspan sal vervang.

Die noem van juis Erasmus, Nienaber en Stick se name in Dinsdag se verklaring is eenvoudig olie op die vuur wat dié gerugte betref.

Maar waarom ontbreek die name van Aled Walters, die gewese kondisioneringsghoeroe van Munster, die gewese Franse toetsstut Pieter de Villiers, wie se name in dieselfde asem genoem is?

Of dalk belangriker: Waar is Coetzee en sy span se name?

Hopelik het ons eersdaags antwoorde op al dié vrae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wdp ·

Ek dink Alistair het dalk n her-eksamen gekry en wag vir uitslae

rollie ·

Hy het gedruip en moet tot die groot ontsteltenis van die SA rugbypubliek hierdie jaar herhaal.

Yebo ·

Boksmart word net elke twee jaar hernu. Is twee jaar geldig.

Idiote! ·

En die eens magtige springbok bloei uit tewryl jul kies en keur…..

Rollie ·

Seker omdat Walters en De Villiers nie eintlik afrigters is nie maar meer “adviseurs” ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.