Die Italiaanse afrigter, Conor O’Shea, het net twee veranderinge aan sy opdrafspan gemaak wat met 15-31 teen Argentinië verloor het vir Saterdag se toets teen die Springbokke in Padova.
Die flank Giovanni Licatti (wie?) speel in sy eerste toets en vervang Francesco Mionto. Die regtervleuel Angelo Esposito (wie?) vervang Leonardo Sarto.
Op die plaasvervangersbank is die stut Tiziano Pasquale, die flank Renato Giammarioli en die skrumskakel Edoardo Gori, nader getrek.
As ʼn mens na dié span kyk, en na die vertonings van Zebre en Benetton Treviso in die Pro14-reeks kyk, word jou bloeddruk opnuut opgestoot, want hoe was dit moontlik dat die Bokke verlede jaar teen die Azzurri verloor het?
Italië het sedert daardie oorwinning nege van hul tien toetse verloor en kon twee weke gelede net teen Fidji aan die oorwinningsbeker teug.
Maar nouja, beter Springbokspanne is ook al deur ander kleintjies soos Japan en Argentinië geklop.
Só, lig loop, al is Brendan Venter nie daar nie om die Italianers op te sweep nie.
Italië se span –
15 Jayden Hayward, 14 Angelo Esposito, 13 Tommaso Boni, 12 Tommaso Castello, 11 Mattia Bellini, 10 Carlo Canna, 9 Marcello Violi, 8 Sergio Parisse (kaptein), 7 Braam Steyn, 6 Giovanni Licata, 5 Dean Budd, 4 Marco Fuser, 3 Simone Ferrari, 2 Luca Bigi, 1 Andrea Lovotti. Bank: 16 Leonardo Ghiraldini, 17 Federico Zani, 18 Tiziano Pasquali, 19 Francesco Minto, 20 Renato Giammarioli, 21 Edoardo Gori, 22 Ian Mckinley, 23 Matteo Minozzi.