Italië spring toe weg soos hul afrigter gevra het

wallis-draakItalië se nuwe afrigter, Conor O’Shea, wat in beheer was toe sy span die Springbokke verlede jaar 20-18 geskok het, wou graag sien dat sy span voortaan met die grotes saamgesels. En teen Wallis het hulle Sondag in Rome met mening stem dik gemaak.

In elk geval, tot rustyd toe. Trouens, met rustyd was Italië op verdienste 7-3 voor. Hulle veteraan-kaptein Sergio Parisse was in sy 122ste toets weer uitstekend en het, met behulp van die Suid-Afrikaner Abraham Steyn, die drie van Edoardo Gori aangevoer.

Dit was, soos teen Suid-Afrika, veral uitstekende verdediging wat Wallis voor rustyd tot foute gedwing en in die algemeen gefrustreer het.

Maar toe, soos so dikwels oor die jare by die Italianers die geval is, het hulle na die waterdrinktyd gaan lê en Wallis toegelaat om 30 onbeantwoorde punte in die tweede helfte aan te teken.

Die eindtelling was dus 33-7. Leigh Halfpenny, na sy eerste mislukte skop, het 18 punte met die skoen aangeteken en Jonathan Davies, Liam Williams en George North het in ʼn goeie tweede helfte vir die Drake gaan druk.

Goed speel is een ding, dit vir 80 minute volhou, is iets anders, en Italië kan aan die tweede helfte geoordeel, hulle maar klaarmaak vir nog ʼn jaar met die Sesnasies-houtlepel.

En Wallis? Hulle sal ook nou weet van die 80 minute wat hulle moet speel teen die sterker spanne. Daar is moontlikhede, en ʼn skok of twee deur hulle is nie uitgesluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adoons ·

Wallis gee Italië pak, Italië gee die Bokke pak. Mens moet liewer nie wonder wat sal Wallis met die Bokke doen nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.