Ixias val weer vas teen Shimlas en Mason

Marco Mason het 17 punte vir die Shimlas met sy skopvoet bygedra. (Foto: Frikkie Kapp/Saspa)

Marco Mason het 17 punte vir die Shimlas met sy skopvoet bygedra. (Foto: Frikkie Kapp/Saspa)

Die Ixias se treurmare in vanjaar se Varsitybekerreeks duur voort.

Hulle is steeds segeloos nadat hulle Dinsdagmiddag op hulle tuisveld in Bloemfontein met 22-13 teen hulle buurman, die Shimlas, verloor het.

Die wedstryd tussen die twee Bloemfonteinse spanne wat aanvanklik Maandag beslis moes word, is weens die baie reën wat veroorsaak het dat die tuisspan se veld onder water was, na Dinsdag verskuif.

Die Ixias het die enigste drie van die eerste helfte gedruk toe die skrumskakel Ruben Heymans oorgeduik het om sy span met rustyd ’n 13-9-voorsprong te gee. Die voorsprong sou die tuisspan moed gegee het om ’n eerste oorwinning van die seisoen aan te teken.

Maar die Shimlas se honger vir ’n oorwinning was groter en na die waterbreek het hulle teruggeveg met eers die heelagter Setchaba Motsoela wat gaan druk het en daarna die vleuel Marco Mason wat die talle foute van die tuisspan met sy skopvoet uitgebuit het.

Die Shimlas is nou tweede op die Varsitybekerreeks se puntelys. Hulle het soos die Maties 14 ligapunte maar het ʼn  swakker punteverskil.

Vir Tiaan Liebenberg, afrigter van die Ixias, en sy span is dit terug tekenbord toe voor eerskomende Maandag se tuiswedstryd teen die UJ. Die Johannesburgers sal vol selfvertroue in Bloemfontein aankom nadat hulle Maandagaand Tuks se stertvere gepluk het.

Die Shimlas speel eerskomende Maandag gasheer vir die Pukke op Shimlapark.

Puntemakers –

Ixias (13) 13: Drie: Ruben Heymans. Doelskop: Martin Jacobs. Strafdoele: Jacobs 2.
Shimlas (9) 22: Drie: Setchaba Motsoela. Doelskop: Marco Mason. Strafdoele: Mason 5.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bloues ·

Ek was baie teleurgesteld om te sien Tiaan dink dat die ou Bloubul ,Meyer stampkar rugby in vandag se tyd nog relevant is. Dit teryl hy vir Helgard het om hom te help. Sou hy aanhou met die spelpatroon sal hy en sy span nie volgende jaar in die eerste liga wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.