Ja, dit lyk of die Blou Bulle dit dalk nog het

In die Noorder- en Sentrale Afdeling lyk dit of daar interessante dae in tweede ronde van die Supersportreeks voor lê, maar in die Suide is die Westelike Provinsie nie te stuit nie.

Pale Toe! het voor die naweek se laaste wedstryde in die eerste ronde daarop gewys dat daar ʼn tyd was dat die Blou Bulle onder druk op hul gevaarlikste was, en dat Saterdag se wedstryd op Ellispark teen die Goue Leeus-vyftiental sou leer of hulle steeds oor die karaktertrek beskik.

Nou ja, die Bulle het die tuisspan in ʼn opwindende wedstryd met 37-35 geklop (rustyd 23-11), en dit wil voorkom (voorlopig, altans) of ʼn mens weer vanjaar op hulle kan peil trek.

Die Leeus is steeds met 16 ligapunte boaan die punteleer en die Bulle bly tweede met 15 punte.

Die Pumas se aanspraak het ʼn effense knou gekry nadat die Valke (en hul eie swak stelskopwerk) hulle in die Bosmanstadion op Brakpan tot ʼn gelykop uitslag van 41-41 gedwing het, maar met 13 punte is hulle nie uit die wedloop nie.

Die tuisspan was rustyd met 27-10 voor.

Sentraal

In die Sentrale Afdeling het Griekwas nou die voortou by die Luiperds oorgeneem deur die Griffons in Welkom met 66-22 (rustyd 26-15) op te dons.

Die Sharks, wat verras het deur die Luiperds te klop, is op hul beurt by Ashton College op Ballito deur die Vrystaat-vyftiental geskud, wat met 21-19 gewen het, nadat die tuisspan rustyd met 14-10 voor was.

Dit was die besoekers se eerste oorwinning in die reeks en as hulle aanhou wen, kan sake in dié afdeling lekker warm raak.

Suid

In die Suiderafdeling bly die WP onaantasbaar, nadat hy die Suidwestelike Distrikte Vrydag met 45-11 (rustyd 21-6) geklop het.

Hy is ʼn volle vyf punte voor Grens, wat hy reeds met 50-34 oorweldig het.

Ná verlede jaar se sukses vertoon Boland teleurstellend, en die bewindhebbers moet dalk die hand dieper in eie boesem steek, as waarvoor hulle lus het.

Hy het Saterdag op die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth met 16-27 (rustyd 7-9) teen die Oostelike Provinsie verloor, wat selfs ná dié sege nog laer as Boland op die punteleer is.

Punte-oes

Simon Bolze van die OP het 17 punte met ʼn drie, drie doelskoppe en twee strafdoele aangeteken. Marco Mason se drie, doelskop en drie strafdoele het 16 punte vir die Vrystaat beteken. Tinus de Beer (Blou Bulle) en Shaun Reynolds (Goue Leeus) het elk ʼn drie gedruk en met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag om 15 punte vir hul onderskeie spanne op die telbord te plaas.

Reynolds is met 65 die voorste puntemaker in die reeks.

Die puntemakers –

Goue Leeus 35 (11) – Drieë: Jarryd Sage, Ashlon Davids, Jano Venter, Selom Gavor, Shaun Reynolds. Doelskoppe: Shaun Reynolds (2). Strafdoele: Shaun Reynolds (2).

Blou Bulle 37 (23) – Drieë: Boom Prinsloo, Corniel Els, Tinus de Beer, Penalty try, Arno Botha; Doelskoppe: de Beer (2); Pens: de Beer (2).

Valke 41 (27) – Drieë: Andries Schutte, Shane Kirkwood (2), Friedle Olivier, Marnus Erasmus. Doelskoppe: Warren Potgieter (3), Christiaan Rust (2). Strafdoele: Warren Potgieter (2).

Pumas 41 (10) – Drieë: De-Jay Terblabche, Frank Herne, Carel Greeff (2), Jean-Paul Lewis, Ruwellyn Isbel, Devon Williams. Doelskoppe: Sias Ebersohn (3).

Griffons 22 (15) – Drieë: Thato Mavundla, Joubert Engelbrecht, Daniel van der Merwe. Doelskoppe: Duan Pretorious (2). Strafdoel: Duan Pretorius.

Griekwas 66 (26) – Drieë: Tertius Kruger (2), AJ Le Roux, Koch Marx, Eric Zana, Christiaan Meyer, Shaun McDonald, Kyle Steyn, André Swartz, AJ Coertzen. Doelskoppe: George Whitehead (5), Eric Zana (3).

Sharks 19 (14) – Drieë: Hyron Andrews (2). Strafdoele: Courtney Winnaar (3)

Cheetahs 21 (10) – Drieë: Marco Mason, Tienie Burger. Doelskop: Marco Mason. Strafdoele: Marco Mason (3).

WP 45 (21) – Drieë: Craig Barry (2), Grant Hermanus, Chad Solomon (2), Justin Philips, strafdrie. Doelskoppe: Grant Hermanus (4)

SWD 11 (6) – Drie: Charles Radebe. Doelskop: Johnny Welthagen. Strafdoele: Leigthon Eksteen (2).
OP 27 (7) – Drieë: Mguca Lupumlo, Simon Bolze, Sonwabo Majola; Doelskoppe: Simon Bolze (3); Strafdoele: Simon Bolze (2)

Boland 16 (9) – Drieë: Clemen Lewis; Doelskoppe: Divan Nel; Strafdoele: Divan Nel (3).

Opgesomde punteleer –

Noord

Goue Leeus 16, Blou Bulle 15, Pumas 13, Valke 10, Welwitschias 1.

Sentraal

Griekwas 17, Luiperds 15, Sharks 11, Vrystaat 10, Griffons 5.

Suid

WP 20, Grens 15, Boland 8, OP Kings 6, SWD 5.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.