Jaareindtoer: Moenie skokke in Bokspan verwag

Springbok-afrigter Jacques Nienaber. (Foto: Patrick HAMILTON/AFP)

Een van ʼn hoofafrigter/keurder se grootste bates is bestendigheid wanneer ʼn span gekies word.

Jacques Nienaber, die Springbokafrigter, Peter Jooste, die hoofkeurder, en sekerlik ook Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, se groep spelers vir die komende jaareindtoer van drie toetswedstryde sal Dinsdag bekend gemaak word.

Die Springbokke speel op 6 November teen Wallis in Cardiff, op 13 November teen Skotland in Edinburg en op 20 November teen Engeland in Londen.

ʼn Hele paar Springbokke is genooi om in Europa agter te bly om vir die Barbarians te speel, maar wat die res van die span betref, word die gordyn toegetrek oor die tweede jaar as Wêreldbekerkampioen.

Verrassings? Nee wat, probeer maar weer. Daar sal wel ʼn paar noodgedwonge veranderings vanweë beserings wees en die groep van meer as 40 spelers kan ʼn bietjie verklein word.

Van die ernstige beserings is dié van die skrumskakel Faf de Klerk wat waarskynlik vir ʼn heupbesering op die operasietafel gaan beland, asook die vaskopstut Frans Malherbe en die slotte Nicolaas Janse van Rensburg en RG Snyman.

Dit is byna ʼn uitgemaakte saak dat Nienaber-hulle drie skrumskakels op toer sal stuur, met Herschel Jantjies en Cobus Reinach reeds agter die stuur.

Dit kan die deur (weer) ooplaat vir Sanele Mohamba of selfs die veteraan Ruan Pienaar om nader getrek te word.

Thomas du Toit is die logiese plaasvervanger vir Malherbe. Du Toit was nog betrokke aan die begin van die Rugbykampioenskap, maar het weens persoonlike redes teruggekeer huis toe.

Salmaan Moerat, kaptein van die Stormers, lyk na die aangewese speler om Van Rensburg en Snyman se skoene vol te staan.

Franco Mostert en Eben Etzebeth trek vir Maro Itoje plat. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Met Eben Etzebeth, Lood de Jager, Marvin Orie en Franco Mostert reeds daar om die vuur te stook, kan die toer ʼn baie waardevolle leerskool vir Moerat wees.

Ander spelers wat die afgelope paar maande na vore getree het, is Warrick Gelant, heelagter van die Stormers, en sy spanmaat Evan Roos, vuurvreter-agtsteman.

Die Bokke behoort die Skotte en Wallis te klop, maar dit gaan uiters moeilik teen Engeland wees, wat steeds wraakgedagtes het wat die Wêreldbekereindstryd in 2019 in Japan betref toe hulle streepsuiker by die Bokke gekry het.

Tot dusver was dit ʼn wipwaentjierit-seisoen, met twee oorwinnings oor die Britse en Ierse Leeus, een sege oor die All Blacks, twee oor Argentinië en ʼn sege oor Georgië, maar twee verloorslae teen die Wallabies en een teen die Leeus.

Wat belangrik is, is die Bokke se eerste posisie op die ranglys, watter spelpatroon die Bokke gaan inspan, en of Willie le Roux en selfs Handré Pollard ʼn ruskans gaan kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Nog steeds jammer dat Rassie wêreld rugby aanval maar te bang is om die kwota sisteem gebaseer op ‘n speler se velkleur wanneer ‘n span gekies word te betreur miskien moet die spelers die knie buig wanneer die volkslied gespeel word.

piet ·

Ek het ‘n idee, Die opset gaan nie verander nie. So moan gaan nie help nie. Ondersteun iets anders of ‘n ander span die Bokke kan in elk geval sonder onpatriotiese moan-gatte soos jy klaarkom.

Harley Davidson ·

My oupa het altyd gese” don’t argue with a idiot because they drag you down to their level and then beat you with experience “

piet ·

AN idiot. Die korrekte frase is: “Never argue with an idiot. They will drag you down to their level and beat you with experience.” Mark Twain se stelling nie jou oupa nie (duidelik want oupa het die klok hoor lui maar weet nie waar die bel hang nie en jy ook nie).

annie ·

… leerskool… so, die ou garde is net daar om stabiliteit te verleen aan die jongeres en die anderstes in hul ewige leerskool; die móét-plan in die immer patetiese land van ons. Soos dit in krieket gaan sal dit in rugby gaan totdat ‘n bestuur wat nie eers weet hoe ‘n rugbybal lyk nie, alles beheer. Ons het nou gesien en gevoel hoe is ‘n wedstryd sonder toeskouers. Dit was ‘n voorskou van SA-rugby in die toekoms.

Kokkie ·

Rassie is, soos ‘n sekere politikus, besig om alles prys te gee vir eie gewin en goedkoop roem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.