Jaco Kriel onskuldig, mag Vrydagaand speel

Jaco Kriel – onskuldig (Foto GB Jordaan).

Die straf van ʼn geelkaart was voldoende, het die tugkomitee van Sanzaar Woensdagoggend bevind nadat die Lions se Springbokflank Jaco Kriel uitgewys is vir die laatvat van die Stormers se losskakel Robert du Preez.

Die tugkomitee, onder voorsitterskap van André Oosthuizen, het bevind dat die speler kontak met Du Preez gemaak het in ʼn poging om die bal af te storm en dat sy optrede nie ooreenstem met ʼn doelbewuste laat loop of obstruksie nie en dat hy dus nie reël 10.4(o) oortree het nie.

Die tugkomitee het beslis dat dit nie ’n oortreding was wat ’n rooi kaart verdien het soos deur die uitwyskommissaris, Deker Govender, aanbeveel is nie.

Die Lions se flank sal dus Vrydagaand op Emirates Airlinepark vir die Lions teen die Jaguares kan speel en vrese dat hy die toer of ten minste ʼn gedeelte daarvan na Australië sou misloop, is nou verby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johannes ·

Mooi gesonde oordeel is aan die dag gele.Baie bly vir Jaco.

Nico K ·

Uiteindelik iemand met verstand. Ek kan nog nie glo hoe iemand gestraf kan word as dit duidelik is dat hy geen intensie gehad het om iets verkeerd te doen nie. As jy ‘n bal aanslaan, duidelik sonder intensie, dan is dit net ‘n skrum. ‘n Strafskop, en veral ‘n geel of rooi kaart moet iets wees wat opsetlik gedoen is. As jy per ongeluk in iemand vas hardloop kan dit nie strafwaardig wees nie. Dieselfde as daar persone onkant in ‘n losskrum lê, wat duidelik nie kan uitkom nie, en hulle verhinder glad nie die bal om uit te kom nie. Hoekom hulle straf? Ek dink om vandag se dae ‘n rugbyspeler te wees moet baie frustrerend wees.

Kosie ·

Ek is bly vir die ou maar kom ons wees nou eerlik, hier is absoluut dubbele standaarde met die toepassing van die reels. Daar is al ouens vir mindere oortredings skuldig bevind. As intensie nie ‘n rol speel nie, weet ek nie hoe ouens soos Stander afgestuur is nie. Kom ons veronderstel nou du Preez het seergekry as gevolg van die tackle, dan was Kriel gerooikaart intensie of nie. Dis eintlik maar ‘n belaglike storie.

Geregtigheid ·

Stem saam met jou… Dit gaan die verstand te bowe dat die Stormers kaptein wat aspris Ross se oe probeer uitkrap het nie uitgewys is nie, Carr se skouerstamp sonder arms teen Andries Coetzee se kop wat hom van die veld af gelaat het, het ook ongestraf verbygegaan…

Nico ·

Geen speler verdien pm op enige manier gestraf te word as daar in die lug kontak gemaak word nie. Maak nie saak of hy die bal wou afstorm nie en of hy vir ‘n hoë bal gekompeteer het nie. As doelbewuste vuilspel nie bewys kan word nie moet daar geen optrede wees nie. ‘n Skopper moet nie ‘n vrypas hê om sonder druk te skop nie en nie een van die spelers wat in die lug vir die bal gaan nie moet ‘n vrypas hê om die bal sonder druk te bemeester nie. Dit is onregverdigebevoordeling.

Kosie ·

Ek stem saam dat rooikaarte net in uiterste gevalle uitgedeel word soos vuisslaan, aspres stywe arm loop, bytery, ens. Hierdie oortredings as die ouens terselfdertyd vir die bal gaan, is sommer nonsens. Nou mag jy nie die ou in die lug speel nie, jy mag hom nie eers raak nie. Die geelkaarte neuk ook die game op. Daar moet ‘n sisteem wees sodat daar ten alle tye 15 teen 15 op die veld is behalwe in die rooikaartgevalle natuurlik.

Regstelling ·

Terloops, die wedstrydkommisaris was Freek Burger en nie Deker Govender nie.

Wim van der Berg ·

Deker Govender was inderdaad die man wat die uitwysing gedoen het, nie Freek Burger nie.

Leeuers ·

Die Wedstrydkommisaris was Freek Burger en nie Derek Govender nie

Pietsepan ·

Jaco Pyper se hantering van die insidente in die wedstryd was nie konsekwent nie. Nizam Carr en Eben Etsebeth moes geel kaarte kry. Om ‘n speler met die hande vas te hou en dan hard te stamp is soos vuishoue uitdeel. Eben moes eintlik ‘n rooi kaart kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.