Jaguares: 2½ keer om die aarde in hul eerste Superreeks

jaguars-regte-logo-300x300Die Suid-Afrikaanse spanne het in die dae van die Super12- en Super15-reeks gekla oor die onregverdigheid om vir tot vier wedstryde van die huis te wees en langer vlugte na Australasië te onderneem as die Nieu-Seelanders en die Aussies.

Dit is egter ʼn vulletjie as daar gekyk word na die afstande en wedstrydprogramme van die Jaguares en die Poemas, in wese eintlik maar dieselfde groep spelers.

Die Jaguares in hulle eerste seisoen van Superrugby en die nasionale span, die Poemas in die Rugbykampioenskap, het in 2016 swakker as wat verwag is vertoon.

Gegewe dat dit byna dieselfde spelersgroep was, is dit egter nie ʼn geweldige verrassing nie.

Die Jaguares, wat in Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Japan agt wegwedstryde moes speel, het in die loop van die Superreeks en die Rugbykampioenskap sowat 50 langafstandvlugte gehaal en meer as 100 000 km gevlieg om hulle agt wegwedstryde te speel.

Dit is 2 ½ keer om die aarde.

Hulle het twee keer in Suid-Afrika kom speel, een keer in Japan en een keer in Nieu-Seeland.

Na drie tuiswedstryde het hulle teen die Southern Kings en die Lions kom speel; is hulle terug huis toe vir twee wedstryde; daarna het wedstryde teen die Sunwolves in Tokio, Crusaders, die Hurricanes en die Blues in Nieu-Seeland gevolg; weer twee tuis in Argentinië; en toe twee teen die Sharks en die Stormers in Suid-Afrika.

Dit sou gewis nie vir die groot manne, soos die voorryspelers wat breed sit en die lang slotte en losvoorspelers, pret gewees het nie.

Die Argentynse afrigter, Daniel Hourcade, sê hulle het geweet wat op hulle wag maar sien  dit as die “koste” van ontwikkeling en groei in die Superreeks. Hy meen egter hulle sal die vlugte op een of ander manier kan verminder.

Vanjaar sal nie veel beter wees nie. Hulle sewe wedstryde sluit twee besoeke aan Suid-Afrika en een aan Australië in.

Dit is maar moeilik, maar dit is die werklikheid. En hulle moet maar daaraan gewoond raak, is Hourcade se filosofiese siening.

Uiteraard stel die strawwe program met die baie ure in die lug, vlugflouheid en minder oefentyd  vreemde vereistes oor die bestuur van spelers en die ure van voorbereiding voor wedstryde. Daar word fyn gelet op die intensiteit en duur van oefeninge en dit moet soms ingeperk word om die spelers relatief vars te hou.

Vanselfsprekend beïnvloed dit die effektiwiteit van samespel – en die spanbestuur kan dikwels nie die manne kies wat hulle graag wil vir ʼn betrokke wedstryd wil hê nie omdat die spelers ruskans nodig het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.