Jaguares, Chiefs en Brumbies glimlag breed

Die Jaguares het Saterdag in Brisbane nog ʼn teelepel purgasie aan hul teenstanders in die Superrugbyreeks uitgedeel toe hulle die Reds met 34-23 geklop het, en boonop ʼn bonuspunt verdien het.

Die Jaguars (41 ligapunte) is nou so te sê seker daarvan om bo-aan die Suid-Afrikaanse puntelys te eindig om sodoende tuisveldvoordeel in Buenos Aires in die kwarteindronde te beklink. Hulle moet nog tuis teen die Sharks en Sunwolves speel en wie sal geld daarop sit dat hulle albei kragmetings sal verloor?

Die Jaguares het vanjaar verdien om daar te wees, maar kom ons wees eerlik, die oud-Wallaby-haker Phil Kears was heeltemal reg toe hy groot kritiek oor die insluiting van die Jaguares (niks anders nie as die Argentynse nasionale span) in ʼn provinsiale reeks (vir franchise-spanne) uitgespreek het.

Die Jaguares se selfvertroue is hemelhoog ná ʼn uiters suksesvolle toer, hulle het diepte ontwikkel en hulle het spelbrekers en spelskeppers wat nie skroom om die bal die werk te laat doen nie.

Dit alles is te danke aan Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, wat ʼn paar jaar gelede ʼn reddingsboei aan Argentynse rugby uitgegooi het en nou met rooi gesigte toekyk hoe dit boemerang in die Superreeks.

Puntemakers:

Jaguares 34: Drieë: Santiago Carreras (2), Felipe Ezcurra, Julian Montoya, Marcos Kremer. Doelskoppe: Joaquin-Diaz Bonilla (3).  Strafdoel: Bonilla.

Reds 23: Drieë: Chris Feauai-Siuatia, Jock Campbell. Doelskoppe: Bryce Hegarty (2). Strafdoele: Hegarty (3).

Die Chiefs en die Crusaders in aksie.

* In Suva, Fidji, het die Crusaders soos ʼn kampioenspan weggespring en binne 20 minute met 20-0 teen die Chiefs voorgeloop, maar toe onverklaarbaar uitgesak en is hulle met 40-27 deur die Chiefs geskok.

Moet ʼn mens iets in die nederlaag lees? Is die Crusaders besig om hul kleed van onoorwinlikheid af te skud? Of was dit nie net ʼn geval om die opgewonde Fidjiaanse toeskouers waarde vir hul geld te gee nie?

Maar dit was tog ten koste van hul vertoningslys, bestendigheid, want niemand hou daarvan om te verloor nie.

Wat wel uitgestaan het, is dat die Crusaders geklop kan word as jy besit van hulle af weghou, as jy meer drieë as hulle druk (vanselfsprekend), in hul gesigte speel en hulle nie toelaat om met teenaanvalle die bresse te slaan nie.

Maar tog moet ʼn mens wonder hoe ʼn kampioenspan 20 punte binne 20 minute kan aanteken en dan heeltemal uitsak. Het die onlangse gebeure in Suid-Afrika, toe van die Crusaders se spelers hulle glo skuldig gemaak het aan onsmaaklike gedrag van die veld af, iets daarmee te doen?

Wanneer gaan daardie verslag oor die gebeure bekendgemaak word, want daar hang ʼn swaard oor van die spelers. Boonop het die Chiefs die agterdeur weer oopgeswaai om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer, al is dit net oop op ʼn skrefie.

Puntemakers:

Chiefs 40: Drieë: Solomon Alaimalo, Jesse Parete, Samisoni Taukei’aho, Brad Weber, Shaun Stevenson, Tumua Manu. Doelskoppe: Jack Debreczini (5).

Crusaders 27: Drieë: Scott Barrett, Mitchell Drummond, Sevu Reece, Braydon Ennor. Doelskoppe: Richie Mo’unga (2). Strafdoel: Mo’umga.

Die Sunwolves en die Brumbies in aksie. Foto: (AP Photo/Shuji Kajiyama)

* In Tokio was dit die Brumbies se eentonige, maar uiters suksesvolle patroon van hoek toe, rolmaal en druk wat aan hulle ʼn oorwinning van 42-19 oor die Sunwolves gestuur het.

Die Brumbies het die Sunwolves voorlangs geboelie, hulle het ses drieë gedruk, ’n bonuspunt verower om nog verder voor te loop in die Australiese groep.

Die Brumbies (39 ligapunte) het twee wedstryde teen die Waratahs en Reds oor en dit begin al hoe meer lyk of hulle soomloos bo-aan die Australiese groep sal eindig.

Dit beteken tuisveldvoordeel in die kwarteindronde en die span wat teen hulle sal speel, sal vinnig ʼn teenvoeter vir die tuisspan se rolmale moet vind.

Hoe dan anders, want die plaasvervanger-haker Connal McInerney het Saterdag drie keer na rolmale gedruk. Boonop die gereelde haker Folau Fainga’a met tien drieë die voorste driedrukker in die reeks.

Die Bulls het die Brumbies se taktiek probeer ontspoor, maar toe in die strik getrap om die ander afdelings van hul spel af te skeep en sodoende slae gekry.

Puntemakers:

Brumbies 42: Drieë: Pete Samu, Irae Simone, Tom Banks, Connal McInerney (3). Doelskoppe: Christian Lealifano (6).

Sunwolves 19: Drieë: Jamie Booth Semisisi Masirewa, Hosea Saumaki. Doelskoppe: Hayden Parker (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gatvol ·

Die Crusaders is besig om wol oor die spanne wat n kans staan vir uitspeel, te trek. Hulle het reeds deurgedring en is besig om skaak te speel .

Henry ·

Jaguares is ‘n baie moeilike span.
Speel goeie rugby en sal gladnie verras wees as hulle die eindstryd haal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.