Jaguares hou sleutel tot SA se uitspeelkanse

Wanneer die Bulls Saterdag in Buenos Aires teen die Jaguares uitdraf, is dit die eerste van die Argentynse span se vyf opeenvolgende wedstryde teen drie van Suid-Afrika se Superspanne.

Dié wedstryde se  uitslae kan bepalend wees oor wie vir die uitspeelwedstryde sal kwalifiseer.

Die Lions is reeds klaar met die Argentyne – een gewen en een oorsee verloor (hul derde opeenvolgende oorsese neerlaag teen die Jaguares).

Die Stormers het op Nuweland in hul eerste wedstryd van die reeks teen die Jaguares gewen – en nou lê daar vir die Bulls dié naweek en vir die Sharks aanstaande Saterdag twee baie moeilike wegwedstryde voor.

Die Stormers se wegwedstryd teen die Jaguares kom eers op 30 Junie wanneer die Superreeks ná die inkomende toer van Engeland hervat.

Die daaropvolgende twee weke toer die Jaguares hier om eers teen die Bulls (7 Julie), en die week daarna teen die Sharks (14 Julie) te speel.

Die Jaguares het vanjaar, soos in die vorige twee seisoene, maar weer sukkel-sukkel begin.

Toe trek hulle skielik los, wen vier van hul ses wedstryde tot dusver op die Australasiese toer sonder ʼn neerlaag, en skiet op na die tweede plek in die Suid-Afrikaanse afdeling van die reeks.

♦ Met drie van die vyf spanne in die Suid-Afrikaanse afdeling, die Jaguares, die Bulls en die Sharks almal ná elf wedstryde op 24 ligapunte, die Lions boaan die punteleer met 31 punte ná 12 wedstryde, en die Stormers onder op die punteleer met 23 punte, ook ná 12 wedstryde, kan die Jaguares die uitspeellot van die SA afdeling bepaal.

Ja, die Suid-Afrikaanse viertal het nog ander wedstryde ook. Maar dit mag teen daardie tyd dalk nie meer tel nie!

♦ Saterdag speel die Stormers in Hongkong teen die Sunwolves wat, glo dit of te nie, verlede week met 63-28 teen die Reds gewen het. En al was dit in Tokio, is dit skielik nie meer ʼn aanvaarde wen vir die Kapenaars nie.

Die Sharks speel Saterdag op Kingspark teen die erg uitgedunde Chiefs wie se All Black-aanspraakmakers moet rus, terwyl hulle ook soveel beserings het dat hulle voortaan moontlik van buite hul gekontrakteerde groep van 38, spelers sal moet “leen”.

Die Lions is tuis om ná drie neerlae in Australasië die Brumbies te probeer pak gee. Dit is nodig, want die week daarna pak hulle die Stormers op Nuweland wanneer die Bulls tuis teen die Sunwolves speel en die Lions op Kingspark teen die Sharks uitdraf. 

Die oorblywende wedstryde vir die Suid-Afrikaanse spanne is –

19 Mei

Sunwolves vs Stormers
Sharks vs Chiefs
Lions vs Brumbies
Jaguares vs Bulls

25 Mei
Jaguares vs Sharks
Bulls vs Brumbies
Stormers vs Lions

30 Junie
Sunwolves vs Bulls
Sharks vs Lions
Jaguares vs Stormers
7 Julie
Bulls vs Jaguares
Stormers vs Sharks

14 Julie
Lions vs Bulls
Sharks vs Jaguares

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.