Jaguares in Buenos Aires wéér te goed vir Lions

Die Lions het Saterdagaand die derde opeenvolgende keer in Buenos Aires slae teen die Jaguares gekry.

Ja, die amperse skande teen die Sunwolves verlede week op Ellispark het hierdie keer werklikheid geword met die Lions wat met eendimensionele rugby elke bal net eenvoudig sonder afwisseling wyd gespeel het. Die Argentyne het met 49-35 gewen en die Lions selfs ʼn bonuspunt ontsê.

Dit is die Lions se tweede neerlaag in drie wedstryde nadat hulle voorverlede naweek ook teen die Blues verloor het.

Die tuisspan se opskietverdediging het dit Saterdagaand vir die Lions moeilik gemaak om ritme agterlangs te kry. Die vlakstaande Lionsagterlyn het boonop die bal, met weinig afwisseling deur soms dieper te speel of druk met skoppe te  verlig, eenvoudig aanhoudend buitentoe gespeel.

Dit het die tuisspan goed gepas.

Die Jaguares se plettervatte op die Lions se middelveld, en selfs van afbreekpunte af op hulle voorspelers, het nie net bewegings gestuit nie maar dikwels tot omkeerbesit gelei.

Op hulle beurt het die Argentynse span met kort aangeë kort-kort die Lions ingetrek, laat mistas en dikwels die man-oor bewerkstellig.

Hulle hantering was uitstekend, en hulle dissipline stukke beter as in die verlede.

Daar skort steeds iets ernstigs by die Lions se verdediging. Te dikwels is daar misgetas, te dikwels was daar ʼn man-oor vir die tuisspan se Swarttruie.

Daar het ook ʼn paar keer ooglopende gapings ontstaan as gevolg van die Jaguares se rigtingverandering van die afbreekpunte af.

Toe die Lions rustyd met 14-25 agter was, het jy gevrees: hier kom ʼn ding. Hulle ondersteuners het egter kort voor die einde van die derde kwart bietjie moed geskep toe Malcolm Marx as plaasvervanger die eerste van sy twee drieë van rolmaalbewegings gaan druk het.

Toe was dit Lourens Erasmus se beurt en op 32-28 was die Lions ernstig terug in die prentjie. Die voortgesette vinnige, geforseerde en soms desperate aangeewerk het egter sy tol geëis en die tuisspan nog twee keer toegelaat om te gaan druk.

Puntemakers –
Jaguares (25) 49:
Drieë: Bautista Delguy, Emiliano Boffelli (2), Javier Ortega Desio (2), Bautista Ezcurra. Doelskoppe: Nicolás Sánchez (5). Strafdoele: Sánchez (3).
Lions (14) 35: Drieë: Marvin Orie, Sylvian Mahuza, Malcolm Marx (2), Lourens Erasmus. Doelskoppe: Elton Jantjies (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johannes ·

Dit verbs my glad nie en daar nog twee op Een volgende nederlae wat wag en dis nie dat ek negatief is nie. Leeus se spelpeil is pateties en nog geen wen bonus punters gekry nie.

Frans C ·

Die verloor verbaas my glad nie. Waar die samestelling NZ-spanne reeds soos vroeg einde
Oktober begin November 2017 bekend was,het ‘n mens gewonder wat die samestelling van die Suid Afrikaanse spanne gaan wees.
Daar is op ‘n laat stadium nog spelers gekontrakteer en het ‘n span soos die Lions gewag dat spelers uit Japan moet terugkeer.Van die Lionsspelers lyk soos die kinders sal sê ‘gaar’ gespeel,was loodvoetig en kon agterlangs net ‘n hand uitsteek om die Argetyne
wat soos jong honde met die bal baljaar het tekeer.

Ek ys om te dink dat die kompetisie nog tot 14 Julie duur.

michael ·

Dit is die argentyne wat beter raak onthou net een ding hulle wil rugby speel hulle gaan nog groot manne slae gee en hulle speel mooi rugby.hulle rugby verbeter en S A se transformasie verbeter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.