Jaguares klop Brumbies, krap kaarte deurmekaar

Die Jaguares se rugbyspan het die agterdeur oopgeskop om vanjaar vir die uitspeelrondes te kwalifiseer nadat hulle vroeg Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) die Brumbies met 20 – 15 in hul Superrugbywedstryd in die Estadio Jose Amalfitani in Buenos Aires geklop het.

Die Jaguares het rustyd met 17 – 15 voorgeloop en seker gemaak van ʼn oorwinning met ʼn strafdoel laat in die wedstryd.

Die Jaguares (23 punte) is nou derde in die Suid-Afrikaanse afdeling en blaas in die nekke van die Sharks (26) en die Bulls (24), met die Stormers (ook 23) en die Lions (22) sekerlik ook steeds in die wedloop.

Maar terwyl die ander spanne (buiten die Bulls ook) almal reeds tien wedstryde agter die blad het, het die Jaguares net nege keer gespeel en kan hulle selfs die voortou neem as hulle die Stormers komende naweek in Buenos Aires troef.

Die Jaguares speel baie ondernemend met Emiliano Boffelli, Jerónimo de la Fuente, Sebastián Cancelliere, Matías Orlando en Domingo Miotti baie gevaarlik op die aanval.

Dan is die strydros Agustín Creevy, Pablo Matera en Marcos Kremer baie woelig wanneer daar om besit meegeding word.

Die dissipline lol steeds, soos nog altyd in die verlede, maar selfs nadat Kremer ʼn geelkaart gekry het vir ʼn soveelste oortreding in die los, het die passievolle Argentyne steeds hul man gestaan.

Dan gebruik hulle ook nie altyd hul arms wanneer hulle duikslae uitvoer nie en die skeidsregter, Marius van der Westhuizen, was dalk toegeeflik.

Nietemin is hulle ʼn vars briesie en sal die Stormers op hul beste moet wees om nie vas te val nie.

Vir die Brumbies is dit na alle waarskynlikheid die einde van die pad. Dit laat weer die vraag onstaan, hoe was dit moontlik dat hulle die Stormers verlede week met broodkrummels kon klop?

Punte: Jaguares 20 (17): Drieë: Sebastían Cancelliere, Matías Orlando, Agustín Creevy. Doelskop: Domingo Miotti. Strafdoel: Miotti.

Brumbies 15 (15): Drieë: Folau Fainga’a, Tom Banks. Doelskop: Christian Lealiifano. Strafdoel: Lealiifano

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frik ·

Waarom so krities? Die Argentyne speel ‘n veel beter klas van rugby as enige Suid-Afrikaanse spanne. Hul het nog flair en ondernemingsgees.

Jorrie Jordaan ·

Vraagteken-…..Omdat die super rugby nou so onvoorspelbaar geword het , speel ek ook nie meer Superbru ni. In die verlede was dit fun maar nou deurmekaar!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.