Jaguares vererger die Blues se sooibrand

Die Argentynse Jaguares het die Blues met 23-19 geklop (2 Maart 2019). Foto: Flickr/Jaguares Argentina

Die Blues se rugbyspan bly maar een van die probleemkinders van Nieu-Seelandse rugby.

Die Argentynse Jaguares het die Blues vroeg Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) met 23-19 geklop nadat hulle rustyd met 11-9 voor was.

Die Blues kan hulself skop dat hulle verloor het, want hulle het in die 83ste minuut ʼn strafskop vyf meter van die Jaguares se doellyn gekry nadat die tuisspan ʼn skrumoortreding begaan het.

Maar in die daaropvolgende skrum is hulle deur die Jaguares van die bal af gestoot en is hul drome van ʼn oorwinning ʼn soveelste keer vernietig.

Die Jaguares het gewen omdat hulle met ʼn plan gespeel het, hul hanteerwerk beter was en hul verdediging rotsvas was.

Hulle het, net soos in die kragmeting met die Bulls, ook die Blues se nerwe afgeduik.

Hulle is nie die volmaakte produk nie, maar wees maar verseker dat jy nie van Buenos Aires af weggaan sonder ’n hele paar kneusplekke, skaafmerke en bloukolle nie.

Die Blues het weer misluk en bly segeloos in vanjaar se reeks. Tog het hulle, net soos in die onlangse verlede, ʼn hele paar spogspelers soos Rieko en Akira Ioane, Sonny Bill Williams, Ma’a Nonu, Augustine Pulu en Patrick Tuipoluto.

Maar steeds kan hulle nie as ʼn span saamspeel nie, steeds begaan hulle te veel basiese foute en sal hulle heel waarskynlik weer aan die Superreeks se agterspeen suig.

Jaguares 23 (11): Drieë: Ramiro Moyano (2), Julian Montoya. Doelskop: Joaquin Diaz Bonilla. Strafdoele: Bonilla (2).

Blues: 19 (9): Drie: Dalton Papalii. Doelskop: Otere Black. Strafdoele: Black (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.