Jaguares word (ook) Haai-kos

Sharks vs Jaguares . (Foto: Twitter)

Dit bly een van die tergendste vrae in rugby waarom die Sharks nog nooit die Superrugby-reeks kon wen nie.

Vanjaar is die jaar, word daar op Durban se strandfront gesê (asook in baie ander opskepplekke landswyd) nadat die Sharks Saterdag op Kingspark op hul goeie vertonings voortgebou het deur die Argentynse Jaguares met 33-19 te troef nadat hulle rustyd met 22-12 voor was.

Hulle het reeds vier keer in die eindstryd gespeel, toe hulle in 1996 met 45-21 deur die Blues geklop is, in 2001 toe die Brumbies hulle met 36-6 oorrompel het, in 2007 toe die Bulls hulle met 20-19 getroef het en weer in 2012 toe die Chiefs hulle met 37-6 verfomfaai het.

Die Sharks lyk vanjaar lus om te speel, met skitterende spelbrekers en spelskeppers soos Aphelele Fassi, Makazole Mapimpi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, André Esterhuisen en Curwin Bosch.

Sharks vs Jaguares . (Foto: Twitter)

Maar moenie hul onbesonge voorspelers onderskat nie, waar die basiese beginsels gelê word voordat die bal agterlangs uitgestuur word waar Louis Schreuder-hulle die toutjies trek.

Spelers soos Kerron van Vuuren, Hyron Andrews, Ruben van Heerden en Tyler Paul word nie oral hoog geag nie, maar hulle sal beslis nie die oë laat rek as hulle saam met Thomas du Toit, Oxe Nche en Sikhumbuzo Nothshe hoër erkenning kry nie.

Die Sharks het soos ʼn sneltrein afgesit en die besoekers na Buenos Aires laat terug verlang. Hulle was regdeur in beheer, het verder met die bal gevorder, besit en gebiedsvoordeel oorheers, minder duikslae verbrou en nie geskroom om te hardloop nie.

Eintlik vlei die telling die Jaguares, want hulle het eers in die laaste paar minute na ʼn span gelyk wat verlede jaar in die eindstryd gespeel het.

Vir die Sharks, wat nou voor op die algehele puntelys is, lyk die toekoms baie belowend.

Die groot vraag is of hulle grootwedstryd-temperament het, wat soms in die verlede ontbreek het.

Geoordeel na vanjaar se vertonings? Beslis.

Punte: Sharks 33 (22): Drieë: Hyron Andrews, Sikhumbuzo Notshe, André Esterhuizen, Kerron van Vuuren. Doelskoppe: Curwin Bosch (2). Strafdoele: Bosch (3)

Jaguares 19 (12): Drieë Santiago Carreras, Joaquin Tuculet, Sebastian Cancelliere. Doelskoppe: Jaoquin Diaz Bonilla, Domingo Miottio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Frans

Die 2007 eindstryd was in die sakkie,so het die Sharks gereken,want met 19-13 voor en met speeltyd bykans verstreke het ‘n eerste super 14 titel ‘n uitgemaakte saak gelyk.Toe kom die onvoorspelbare Habana,seker een van die Bulle se beste kopies vanaf die Leeus, en doen die onverwagte en druk die wendrie in die 83ste minuut vyf meter van die pale en los ‘n verslae en verdwaasde Sharksspan en Sharksondersteuner om te wonder oor dit wat kon gewees het.Die doelskop was formaliteit want Hougaard se visier was ingestel. Steyn het seker ‘n paar slaplose nagte oor sy misluke verdoelskop beleef want… Lees meer »