Jake en John kies hul spanne

Dan du Plessis op die aanval. Foto: Hansie Linde.

Die wedstryd wat deur oudspelers as die “vertoonvenster van plaaslike rugby” bestempel word, is weer hier met Jake White en John Dobson wat hul spanne vir Saterdag se Bulls‑Stormers-kragmeting op Loftus Versfeld gekies het.

Geen veranderinge is aangebring aan die Kapenaars se agterlyn wat twee weke gelede met die Sharks in Durban klaargespeel het nie, met Clayton Blommetjies, Suleiman Hartzenberg en Seabelo Senatla wat ʼn gevaarlike agterste driehoek vorm.

Voeg daarby die skeppende spel van Manie Libbok en die talent van ʼn Ruhan Nel en ʼn Dan du Plessis en die Bulls sal beslis hul storie op verdediging moet ken; hierdie Stormer-spoedvrate sal graag met die bal wil hardloop.

Voorlangs sal Deon Fourie die besoekers vanuit sy flankposisie aanvoer, terwyl Willie Engelbrecht en Scarra Ntubeni ook hul kanse in die opdrafspan sal wil aangryp.

Vir die Bulls maak S’bu Nkosi sy terugkeer in die no. 11-trui, nadat die Springbok-vleuel vroeër met sy geestesgesondheid gesukkel het.

Wandisile Simelane en Harold Vorster – al twee voormalige Lions-spelers – sal die senterkombinasie vorm, terwyl Cornal Hendricks op regtervleuel sal diens doen.

Die Bulls se Jacques du Plessis. Foto: Twitter.

Goeie nuus is dat Jacques du Plessis voldoende van sy handbesering herstel het om saam met kaptein Ruan Nortjé in die lynstane te rank.

Die 29-jarige voorspeler het onlangs op die Bulls se amptelike YouTube-kanaal gesê dat hy brand om weer gereelde speelkans te kry en ʼn verskil op die rugbyveld te maak.

En die braaivleisvure in Pretoria sal beslis sterker brand as die voormalige SA o. 20-speler amok teen die Kapenaars maak.

Dan is Morné Steyn op die plaasvervangersbank ingesluit. Indien die 38-jarige losskakel sy verskyning op die veld maak, sal dit sy 150ste Superrugby- en Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd vir die Bulls wees.

Johan Goosen en Bismarck du Plessis is egter nie in die wedstrydgroep nie.

Die wedstryd begin môre om 17:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: David Kriel (heelagter), Cornal Hendricks (regtervleuel), Wandisile Simelane (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), S’bu Nkosi (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Cyle Brink (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (kaptein en slot), Jacques du Plessis (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Jan Hendrik Wessels, Simphiwe Matanzima, Francois Klopper, Ruan Vermaak, Nizaam Carr, Embrose Papier, Morné Steyn en Lionel Mapoe.

Stormers: Clayton Blommetjies (heelagter), Suleiman Hartzenberg (regtervleuel), Ruhan Nel (buitesenter), Dan du Plessis (binnesenter), Seabelo Senatla (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Herschel Jantjies (losskakel), Marcel Theunissen (agtsteman), Willie Engelbrecht (flank), Deon Fourie (kaptein en flank), Gary Porter (slot), Ruben van Heerden (slot), Neethling Fouché (stut), Scarra Ntubeni (haker) en Brok Harris (stut). Plaasvervangers: Joseph Dweba, Ali Vermaak, Sazi Sandi, Ernst van Rhyn, Ben-Jason Dixon, Junior Pokomela, Paul de Wet en Sacha Feinberg-Mngomezulu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.