Jake op afrigters se glybaan

Jake White (Foto: superxv.com)

Jake White (Foto: superxv.com)

En daar is Jake White se Franse wittebrood net so vinnig verby as wat dit begin het. Dit laat die vraag: Hoe lank is `n (goeie) afrigter se rakleeftyd?

White, na wie daar onvleiend op die internet verwys word as “Jake the Snake” en “Fake Jake” asook allerhande ander lelike goeters, se Franse klubspan Montpellier het verlede Saterdag  se skoksege oor Toulon Saterdag met `n nederlaag teen Oyonnax  opgevolg.

White is eintlik in `n posisie waar hy nie kan wen nie. Om `n spul passievolle, maar onvoorspelbare Franse af  te rig, steek in baie min mense se broeke.

Soos die destydse Franse afrigter en voormalige Hane-kaptein Pierre Berbizier altyd gesê het: Die enigste voorspelbare ding van die Franse is hul onvoorspelbaarheid.

Watter span gaan op wedstryddag opdaag? Niemand weet nie.

Op hul swakste kan hulle spanne troef, op hul beste kan hulle skandes maak. Dis die een week op, die ander week af. Eintlik moes die Franse al jare gelede `n Wêreldbekertoernooi gewen het, eintlik moet hulle die Sesnasiesreeks oorheers.

White het, toe hy twee weke gelede op `n “konsultasie-grondslag” vir ses maande by Montpellier se Fabian Galthie as breier oorgeneem het, raakgevat deur die gewese Bokagsteman Shaun Sowerby as hulpafrigter saam te neem.

Sowerby ken Franse rugby, hy het immers jare lank daar gespeel en afgerig. Hy praat vlot Frans en saam met die kwiksilwer-senter Stephane Glas (wat  die agterlyn afrig), is dit `n wenkominasie en móés Montpellier uit die verloor-kettings breek.

Dit klink vreemd, maar eintlik was dit “maklik” om die Franse en Europese kampioenspan, Toulon, te tem. Die span is baie voorspelbaar, jy sal tog nie verwag dat ou, ervare hande soos Carl Hayman, Bakkies Botha, Juan Smith, Matt Giteau en Mathieu Basteraud hul speelstyl sal verander nie? White het  dit reggekry om sy spelers op te sweep en sekerlik op `n swartbord aan hulle te wys hoe om Toulon te troef.

Hy spog tog nie verniet met `n goue WB-medalje in sy kas nie.

Om Toulon te troef, moet jy hulle voor baasraak. Speel in hulle gesigte, duik die nerwe van hulle af wanneer hulle oor die voordeelyn kom en skop takties beter as hulle. Die een of ander tyd sal die skeidsregter ook `n geelkaart uitpluk.

Maar nadat White `n  bier stroopsoet uit `n rugbystewel ná die wedstryd teen Toulon kon drink, moes hy dit Saterdag  teen Oyonnax bitter in `n glas afsluk.

Net soos `n speler aan die einde van sy loopbaan kom, net so het `n afrigter ook `n beperkte rakleeftyd. Dink maar aan Bob Dwyer, Clive Woodward, John Hart, Nick Mallett, Peter de Villiers.

White het destyds vernuwing by die Brumbies (jong en onervare spelers) gebring. Hy wou die Wallabies afrig. Watter fiasko sou dit nie gewees het nie, want ek weet nie hoe White, wat as `n rigiede skoolmeester bestempel word, die Kurtley Beale, Quade Cooper- en James O’Connor-gevalle sou hanteer het nie.

By die Sharks het White hom teen `n gevestigde instelling vasgeloop. As speler was John Smit White se regterhand, hy het uit White se hand geëet, nou was hy White se baas.

Ek het hoe agting vir White, vir dit wat hy bereik het, vir dit wat hy nog  sal bereik.

Gaan hy ses maande kan uitsien?

Dis baie moeilik om bo uit te kom, dis baie, baie  makliker om te gly.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae