Jake opgewonde oor Marco se terugkeer

Marco van Staden in aksie vir die Bulls. Foto: GB Jordaan.

Op dieselfde dag as wat die nasionale kragreguleerder aangekondig het hy sal weer beurtkrag instel, het die Bulls bevestig dat Marco “Eskom” van Staden weer deel van sy opset is.

Die kranige losvoorspeler het ʼn kontrak onderteken wat hom tot Junie 2024 op Loftus Versfeld sal hou.

“Marco is ʼn uitstekende speler wat homself al dubbel en dwars oor die jare bewys het. Ons is opgewonde oor die bydrae wat hy in ʼn besige 2022-’23-siesoen kan maak en ons weet dat sy talent en ervaring van onskatbare waarde kan wees,” het Jake White, die Bulls se direkteur van rugby, gesê.

Van Staden het destyds sy professionele buiging vir die Pretorianers gemaak en hy was een van die sterre in die Bulls se onlangse rugbysukses.

Die 27-jarige flank, wie se bynaam “Eskom” is omdat hy met sy klipharde spel as’t ware ander spelers se ligte kan afskakel, het verlede jaar ʼn kontrak met Leicester Tigers in Engeland onderteken.

Hy het egter harsingskudding in een van sy wedstryde oorsee opgedoen en het sedertdien weinig speelkans gekry.

Die Engelse klub het hom in Julie van sy kontrak vrygestel en hy is terug na Suid-Afrika om met sy rehabilitasieproses voort te gaan.

“Marco se tyd by ons is ongelukkig deur ʼn besering kortgeknip, maar sy bydrae tot Leicester se rugbyreis sal nie vergeet word nie,” het Steve Borthwick, hoofafrigter van die Tigers, destyds gesê.

Van Staden het in vorige onderhoude erken dat hy brand om weer rugby te speel en sy teenwoordigheid is baie welkom in Pretoria. Veral nadat Arno Botha groener weivelde oorsee gaan soek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.