Jake sterk aan ná noodoperasie

Jake White. Foto: GB Jordaan.

Jake White, die Bulls se direkteur van rugby, het ʼn suksesvolle noodoperasie aan sy buik ondergaan.

Die 59-jarige afrigter het nie lekker gevoel tydens die Bulls se jongste wedstryd teen die Dragons in Newport nie en hy kon nie saam met die span na die veld reis nie.

Die Pretorianers het gister weer in Suid-Afrika geland en White het later die dag erge maagkrampe ervaar. Hy is na ʼn hospitaal gehaas en het ná mediese advies ʼn noodoperasie ondergaan.

“Die suksesvolle operasie van twee uur het in ʼn Pretoria-hospitaal plaasgevind en die dokters is tevrede dat alles goed verloop het. Die mediese span is vol vertroue dat Jake ten volle sal herstel en binnekort na sy pos sal terugkeer,” het die Bulls in ʼn amptelike verklaring gesê.

White sal vir eers rus en ʼn rehabilitasieprogram volg. Hy behoort weer op 8 Februarie die afrigtersleisels van die Bulls vas te vat. Intussen sal die assistent-afrigters vir die span se voorbereidingswerk verantwoordelik wees.

Edgar Rathbone, die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se uitvoerende hoof, het vandag ʼn besoek by White afgelê en hy het die mediese personeel vir hul knap diens bedank.

White, wat in 2007 die Webb Ellis-trofee saam met die Springbokke omhoog gehou het, is in 2020 as die Bulls se direkteur van rugby aangestel.

Hy het onmiddellik sy stempel in Pretoria afgedruk en die trofeekas op Loftus Versfeld het omtrent uit sy nate gebars.

“Dit is ʼn voorreg om deel van die Bulls-opset te wees en ons wil weer een van die sterkste unies in wêreldrugby word. Ek is nog altyd dieselfde persoon; ek wíl wen. As direkteur van rugby gaan ek nie skroom om my moue op te rol en te werk nie: Ek wil afrig,” het hy vroeër in ʼn radio-onderhoud gesê.

Sy kontrak is in September 2022 met ʼn verdere vyf jaar verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.