James O’Connor: die rebel sonder ʼn rede

James O'Connor (Foto rugby.co.au.)

James O’Connor (Foto rugby.co.au.)

ʼn Mens sal nooit weet wat werklik in James O’Connor se kop aangaan nie.

Al wat ek weet, is dat een van die mees begaafde rugbyspelers, wat op 17 die jongste speler nóg geword het wat Superrugby gespeel het en die tweede jongste Wallaby (18) in 2008 geword het, se loopbaan die soveelste keer op die ashoop beland het.

Ná 44 toetse vir die Wallabies, 71 Superwedstryde vir die Western Force, Melbourne Rebels en Reds, 44 wedstryde vir Toulon en 15 vir London Irish, is sy loopbaan by ʼn kruispad, in ʼn doodloopstraat.

Die afgelope naweek is O’Connor (26) en die gewese All Black-slot Ali Williams (35) vroegoggend voor ʼn nagklub in Parys deur die polisie vasgetrek waar Williams kokaïen gekoop het. Hulle was twee nagte in die tronk om hul roes af te slaap en moet binnekort in die hof verskyn.

Niemand wil O’Connor meer in Australië hê nie en sy kontrak by Toulon sal glo nie meer hernieu word nie.

En tog, as ʼn mens van sy twiets lees, kan jy nie glo dat hy die kluts kwytraak nie.

O’Connor, wie se ouers in Nieu-Seeland gebore en albei sy grootouers Suid-Afrikaners was, kon dus vir Australië, Nieu-Seeland of die Bokke gespeel het.

Sou dit enige verskil gemaak het? Is daar werklik ʼn reddingsboei vir jong spelers wat op die treinspoor speel?

Is die dood van Dan Vickerman nie vir ons almal ʼn les nie?

♦  Dit het my laat terugdink aan die tragiese verhaal wat oud-kollega Herman le Roux oor Francois Roux vertel.

Roux, wat in 2008 op 78-jarige ouderdom oorlede is,  was ʼn swerwer, ʼn nomaad wat byna ʼn Springbok geword het toe hy in 1955 vir die Junior Springbokke teen die Britse Leeus gespeel het.

Hy was uiters talentvolle rugbyspeler en atleet en het vir vyf provinsies, Noord-Transvaal, Transvaal, Vrystaat, Grens en Rhodesië, rugby gespeel. Hy was ʼn oud-joernalis wat vir verskeie koerante in Suid-Afrika, die destydse Rhodesië en Londen gewerk het.

Hy was ook die eienaar van ʼn streekkoerant, ʼn hoenderboer, het ʼn tweedehandse boekwinkel besit en wou in ʼn stadium ʼn politieke party begin.

In die skadu van sy lewe was hy ʼn amperse kluisenaar, ʼn bywoner op ʼn plaas buite Lephalale (Ellisras). Hy wou op sy eie wou wees, sonder ʼn motor en telefoon.

Stap O’Connor dieselfde paadjie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Wel wat die “ander” speler? Daar was 2 onthou? Hierdie een het “wag” gestaan en die “ander” een was IN die kar MET die dwelmsmokkellaar toe hulle die transaksie wou beklink. Wat het in sy kop aangegaan en onthou dis nie die eerstkeer dat die “ander” speler probleme veroorsaak het nie of is die feit dat hy n All Black is hom onaantasbaar selfs met die wet van Frankryk? Verskoon my maar ek het nie sympatiek met hulle nie en hoop hulle voel die VOLLE krag vd Franse wet. uit en gedaan. Hoog tyd dat rugby spelers wat dink hulle is bo die wet veral die uit NZ vasgevat en n voorbeeld van gemaak word. Wat is dit met rugby spelers uit NZ wat gedurig in die media is oor dronkenskap, vroueslaners, aanrandings en dwemlsmisbruik? Jy hoor dit skaars indien nooit oor spelers van SA Engeland Frankryk ens nie. Skaars.Dan is daar die arrogasie van sport verslaggewers in NZ wat se hulle dink hierdie spesifieke insident n “witchhunt” en n oorlog teen dwelms en dat dit elke mens die reg het om te belsuit wat jy in jou liggaam sit. O so ek is besig om my liggaam met alkohol te besoedel so indien ek “drink en bestuur” gevang, los my uit dit was my keuse en besluit? Wow wat n argument maar nou ja hoe verduidelik jy dit aan sulke mense wat kom van n klein eiland wat daar iewers in die Atlantiese oceaan verlore le ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.