James Small en die All Blacks-stoomtrein

James Small, met die bal, en Joel Stransky teen Frankryk in 1993 (Foto GLRU argiewe)

Dit was een van daardie mediakonferensies waarop daar een vraag oor en oor gevra is: Hoe gaan jy vir Jonah Lomu keer?

Dit was op 21 Junie 1995, drie dae voor die Wêreldbekereindstryd tussen die Bokke en die All Blacks op Ellispark: Woensdag presies 22 jaar gelede.

Die kamer was volgepak met joernaliste – radio en televisie, tydskrifte en koerante.

Aan die hooftafel was die Bokke se spanbestuurder, Morné du Plessis, die mediaskakelman, Edward Griffiths, en die Springbok-regtervleuel, James Small.

As ek reg onthou, was ʼn paar ander Bokke ook daar, maar net vir morele ondersteuning.

Ligte aan!

En toe reën dieselfde vrae op Small neer: Hoe gaan jy die All Black-stoomtrein keer, kry jy al nagmerries oor hom, hoe gaan jy Vrydagaand slaap?

“Ek gaan my bes probeer,” het Small eerlik probeer wegval. Wat anders moes hy sê?

Small was diplomaties, hy het lofliedere aan Lomu uitgedeel en heuning om sy mond gesmeer.

Dit was binne tien minute verby, want al wat die horde Nieu-Seelanders wou hoor, was hoe goed Lomu was, hoe hy oor die Bokke sou hardloop, hoe die eindstryd reeds in die sakkie was.

Maar net voordat Small opstaan, het hy laggend opgemerk: ”Het iemand al gevra hoe hy my gaan keer?”

Die Bokke se planne was gemaak: een vir almal en almal vir een.

Hulle het haarfyn beplan hoe Japie Mulder, Joost van der Westhuizen, Hennie le Roux en Ruben Kruger vir Small sou help.

Wanneer Lomu (wat ek steeds as een van die grootste spelbrekers in wêreldrugby beskou) aan die bal raak, moes hulle soos bye op hom toesak; sy beweegruimte inperk.

Die All Blacks se Plan A (en Plan B) het om Lomu gedraai: om die bal so vinnig moontlik by hom uit te kry. Hy moes soms tussen die losskakel, Andrew Mehrtens, en die senters, Walter Little en Frank Bunce, insny. Wanneer die vlugvoetige heelagter, Glen Osborne, of die linkervleuel, Jeff Wilson, met teenaanvalle begin, moes hulle die bal by Lomu probeer uitkry.

Maar hoe langer die wedstryd geduur het, hoe minder gevaarlik het Lomu geraak.

Ekstra speeltyd en vir oulaas weer probeer. Joel Stransky se skepdoel het deur die pale geseil en Mehrtens se poging was mis. Die Bokke 15 en die All Blacks 12.

En toe moes ons hoor dat Suzi die All Blacks vergiftig het.

Nie James Small, Japie Mulder, Hennie le Roux, Joost van der Westhuizen of Ruben Kruger nie, maar ʼn witkopkelnerin, het die eindstryd gewen …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Ek mag verkeerd wees maar ek kan nie onthou dat Lomu ooit dit kon regkry om ‘n drie teen Suid Afrika te druk nie.

Veritas ·

Johan jy is doodreg. Lomu het hard probeer maar kon nooit ‘n drie teen die Springbokke druk nie.

wicus ·

DIS NIE JOEL STRANSKY NIE DIE PIETER MULLER SAAM JAMES SMAL

Janie Monsieur ·

Dagsê wicus,
Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.