Jannie de Beer gesels oor Windhoek en daardie vyf skepskoppe

Jannie de Beer in aksie. Hy vertoon volmaakte balans wanneer hy sy dodelike regtervoet deurswaai vir nog punte in die Wêreldbeker in 1999. Foto: Jannie de Beer se Facebook-blad.

Twintig jaar gelede het hy Engeland feitlik eiehandig verpletter met sy dodelike regtervoet in ’n Wêreldbeker-uitklopwedstryd.

Op 24 Oktober 1999 skud Jannie de Beer die rugbywêreld tot in sy fondamente met ’n sensasionele skopvertoning toe hy die Rose in die kwarteindronde met ’n verstommende vyf skepskoppe uit die Wêreldbeker boender. Dié nommer 10-voskop verhuis eersdaags Windhoek toe vir die volgende hoofstuk in sy buitengewone lewe en het ’n rare onderhoud aan Pierre Massyn toegestaan.

“Die Britse pers wóú dit uit my hê ná daardie vyf skepskoppe. ‘Wat het jou geïnspireer?’ Toe sê ek vir hulle: ‘God het my die talent gegee en die voorspelers die bal’.”

Dis Jannie de Beer, onse Jannie van Odendaalsrus wat Engeland daardie dag in 1999 stukkend geskop het. En toe skryf die Engelse koerante mos “The boot of God kicked England out of the World Cup”. En al wat die teruggetrokke Jannie wou doen, is om God die eer te gee.

Suid-Afrika het al gróót losskakels opgelewer. Bennie Osler en Tony Harris, wat ook ’n Springbok-krieketspeler was. Die weergalose Naas Botha. De Wet Ras met sy reuseskoppe. Joel Stransky wat self dáárdie beker in 1995 met ’n skepskop in beseringstyd huis toe kon bring. En Handré Pollard wat op 2 November vanjaar sjampanje uit die William Webb Ellis-beker kon proe.

Maar daardie dag in Parys was daar net één naam op almal se lippe, en dit was dié van ’n roeskop-Vrystater met ’n skop soos ’n muil – Jan Hendrik de Beer.

Daar is naarstiglik na die rekordboeke gegryp, maar dit is sonder twyfel bepaal: De Beer se verbysterende vyf skepskoppe is die nuwe wêreldrekord en dit sal waarskynlik nooit weer geëwenaar word nie. Wat nog merkwaardiger is, is dat hierdie skepskoppe almal in die tweede helfte was!

Maar hoe het Jannie de Beer se paadjie geloop ná die skielike roem van 1999?

“Man, ek was eers in die internasionale eiendomsmark betrokke. Ek het selfs ’n ruk in Londen gewoon. Terug in Suid-Afrika, het ek in Bloemfontein, Parys in die Vrystaat en ook Pretoria gewoon. Ek het by die Valke afgerig en konsultasiewerk en bemarking vir verskeie maatskappye gedoen. Tans is ek en Vicky op Potchefstroom. Ek is betrokke met Flow Centric, ’n maatskappy wat baie sterk fokus op stofbeheer in die mynbou- en landbousektore.”

“En nou trek julle Windhoek toe?”

“Ja, jy is mos self ’n Windhoeker! Ek moet op 13 Januarie in die nuwe jaar by Windhoek Gimnasium inskakel as direkteur van rugby. Windhoek Gimnasium is ’n prestige privaat skool in die Curro-stal. Ek neem oor by Jaco Engels wat ’n pos as afrigter in Rusland aanvaar het. ’n Ou vriend van my, Janneman Brand wat vir die WP en Griekwas gespeel het, is aangestel as hoofafrigter.

“My rol is meer oorsigtelik met ’n groot fokus om strukture gereed te kry om ’n belangstelling in rugby vanaf ’n vroeë ouderdom by die jeug te kweek. Ek sal ’n bydrae kan maak ten opsigte van strukture, persoonlike verhoudinge en rugby as ’n opheffingsmeganisme in die gemeenskap. Flow Centric, vir wie ek tans werk, het ook kantore in Windhoek, dus sal ek behalwe vir die rugby, ook my gewig daar kan ingooi.”

Jannie was aan die minder bekende Hoërskool Wessel Maree op skool en moes meeding teen spelers van gerekende sterk skole soos Grey Kollege vir ’n plek in die spanne van die Universiteit van die Vrystaat.

“Ek het in ’n proefwedstryd vir Huis De Wet teen Huis JBM Hertzog gespeel. Ek het in die F-span begin! Maar afrigter Tat Botha het my raakgesien en ek het toe deur die stelsel begin vorder – eers vir Vrystaat se o. 20-span, toe vir die Shimlas en daarna vir die Vrystaat se senior span. Oom Tat het my baie geïnspireer en dikwels vir my gesê: ‘Jannie, jy gaan hierdie wedstryd vir ons wen!’ ”

“En van die groot geeste in jou tyd? Jy en Rassie (Erasmus) het mos saam vir Vrystaat gespeel?”

“Ja, man, ek en Rassie het vele wedstryde saam vir Vrystaat gespeel. Rassie was maar altyd ’n man wat buite die boks kon dink. Hy, Naka Drotské en Brendan Venter (vandag ’n mediese dokter) kon saam lekker planne maak. ‘Geen wonder hulle was en is so suksesvol as rugbyafrigters nie’.”

“En, Jannie, wie was jou mentor?”

“ ’n Groot mentor in my lewe was Dawie Spies (broer van oorlede Pierre Spies). Deur die jare het ek betrokke geraak by Manne van die Woord, wat Dawie begin het, en gevolglik het ek lank skouers met hom geskuur. Net so is daar baie mense – te veel om op te noem – wat op kritieke tye ’n groot impak in my lewe gemaak het. Hier dink ek aan my rugbyafrigter op hoërskool, mnr. Piet Nel, Oom Tat Botha by Kovsies in my o. 20-dae, die briljante Gysie Pienaar, Vernon Corlett (ook aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, soos dit destyds genoem is) en Alan Zondagh toe ek in Engeland gaan klubrugby speel het.”

Nou moet ons onafwendbaar praat oor die beste spelers saam met wie en teen wie hierdie skerpskopper van formaat gespeel het.

“Die beste losskakel teen wie ek gespeel het, was Engeland se Jonny Wilkinson. Ander voortreflike losskakels teen wie ek kragte gemeet het, was Henry Honiball, Carlos Spencer van die All Blacks en die Aussie Stephan Larkham. Ek onthou Gysie het vir Henry uit die Koshuisliga gaan haal om vir die Shimlas en die Vrystaat te speel. Later was hy skitterend vir die Bokke.

“Uitstekende spelers saam met wie ek die voorreg gehad het om te kon speel en teen te speel – wat ek vinnig vir jou kan opnoem – is Bobby Skinstad en André Venter (vir wie Rassie Erasmus die bynaam Flenters gegee het). Hierdie man sou deur ’n muur hardloop vir sy span. Daar was die eenmalige Joost, Pieter Rossouw, wie se bynaam Slaptjips was, en Tim Horan, senter van Australië en Saracens.”

Oor afrigters vertel De Beer dat hy met breiers van gehalte te doen gehad het, maar dat hul style verskil het.

“Hier dink ek aan mnr. Piet Nel, oom Tat Botha, Gysie Pienaar, Gerrie Sonnekus, kolonel Peet Kleynhans, Carel du Plessis, Nick Mallett en Heyneke Meyer, om maar net ’n paar op te noem. Die afrigter wat my egter die meeste beïndruk het, was Alan Zondagh.”

Ja, hy kon skop, Jannie de Beer van Odendaalsrus. Dié man wat nou 48 is en met ’n regsgraad van Kovsies kan spog. Maar die grootste oomblik in sy lewe was nie toe hy Engeland 20 jaar gelede met vyf van die bestes gekelder het nie.

“Toe ek Vicky ontmoet het, en sy ingestem het om my lewensmaat te wees, was dit die grootste oomblik in my lewe. En natuurlik ons kinders, Divan (19), nou op Pukke, en Kristen (21) wat op Tukkies studeer.”

Vat vyf, ou Grote!

  • Pierre Massyn is in die destydse Suidwes-Afrika gebore en is die skrywer van Springbok Rugby-Vasvra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Spike ·

Onthou julle Hugh Bladen se wonderlike beskrywing van die 5 skepskoppe.

ANDRE ·

Sal DAAI dag nooit in my lewe vergeet nie ! Skitterend……..Saluut Jannie !

koos ·

Jannie, my grootste respek aan ons Hemelse Vader en aan jou.
Hy het jou voete op die grond en jou oë op Hom gerig gehou.
Dankie dat jy nie soos ander spelers nou boeke skryf en die slegste aan die groot klok wil hang net vir geld nie.

PJN ·

Jannie sterkte in Windhoek Gimnasium. Dis ‘n trotse nuwe Curroskool wat onlangs eers gestig is. Ek was in Wiindhoek Hoërskool in 1978 matriek. Die twee skole is deesdae aardsvyande op sportgebied. Twee jaar terug het WHS 1stes vir Gimmies ‘n goeie pak op Vegkop die sportvelde van WHS gegee. Dit was met WHS se 100 jarige feesvieringe. Geniet Windhoek dis lekker mense wat daar bly…….

Feite ·

Jannie was ongetwyfeld die doring in die vlees van die Engelse met daardie puik skepskoppe. Dit was voorwaar van die briljantste losskakelspel wat ek tot vandag toe beleef het. Om te verneem dat dit so goed gaan met Jannie en sy gesin is vir my absoluut die kersie op die koek. Mag Jannie en sy gesin steeds van krag tot krag gaan!

Niklaas ·

Jannie was maar net ‘n top speler gewees. Deur die jare het die Bokke net soveel groot sterre opgelewer as die magtige All Blacks. Mag die Bokke steeds sterk wees in 2020 , ten spyte van die uittog van veral Blou Bulle se Springbok spelers wat in groot getalle weggaan. Hoop nie dit sal SA rugby skade aandoen nie. In Jannie se tyd was daar glad nie sulke geleenthede soos deesdae nie. Die talent moes hier bly en hier speel .

Isak ·

En raai wat. Jannie kom uit die Noord Vrystaat nou Griffons uit. Jannie was n ou yster. Sterkte vir jou en Vicky in windhoek Jannie.

Derick ·

Welkom Jannie in die land van melk en heuning.
Glo my as jy 3 jr hier bly sal jy nooit weer wil weggaan nie.
Misdaad is baie min.
Alle bevolkingsgroepe kom goed oor die weg.
Ons mense hier is nog mense , sout van die aarde.
Stabiele regering en uitstekende polisiemag. Vra maar vir die misdadigers (lol)
Glo jy gaan dit hier geniet.

bokka ·

Ja nee Alan Zondag en Bob Woolmer. Dis ouens wat hulle onderskeie sporte soos die palm van hul hand ken, geken het.

Werner ·

Ja, en n week na die 5 skepdoele speel die Bokke in die semi teen Australia en Jannie verbrou 18 punte na die pale!

Klippies ·

Die weergalose Naas Botha het in sy loopbaan n suksessyfer na die pale van net 69 % gehad.

Pietsnot ·

Noem liewer regte losskakels soos Piet Visagie en Hennie Le Roux se name.

Karlahari ·

Nerens in die berig word daar gemeld dat hy een van die bestes was nie.
Die berig draai om vyf skepskoppe in die tweede helfte wat tot nou toe n rekord is.
Maar nou ja. Met so naam kan mens dit verstaan….

Werner ·

Joel se skepskop in 95 was 7 minute voor die einde. Hy het nog 3 minute voor die einde met n strafskop misluk!

Klippies ·

Noem eerder die name van klassieke losskakels soos Piet Visagie en Hennie Le Roux.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.