Japan lek lippe af vir Wêreldbeker-miljarde

Japan is besig om sy lippe af af te lek vir die inspuiting van baie miljarde jen uit die buiteland wat aanstaande jaar se toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) vir sy ekonomie sal beteken.

EY, die wêreldbedryf van die Britse ouditeursaak Ernst & Young, reken die toernooi kan bykans ¥216,6 miljard (sowat R24 miljard) aan waarde tot die Japanse ekonomie byvoeg.

Die studie is namens die organiserende komitee van die toernooi onderneem.

Akira Sjimazoe, die komitee se voorsitter, bestempel dit as ’n “ongekende ekonomiese geleentheid vir Japan in sy geheel”.

Aan die keersy skat EY die gasheerland sal slegs ¥40 miljard (sowat R4,5 miljard) aan die opknapping van infrastruktuur soos stadions en vervoernetwerke hoef te bestee.

Na raming sal meer as 400 000 oorsese rugbygeesdriftiges Japan besoek, en sal sowat 25 000 werkgeleenthede oor ʼn wye spektrum bedrywe uit die toernooi voordeel put. Ekonomiese gewin word oor 12 stede versprei.

Die 2019-projeksie bied ʼn aanduiding van die voordeel wat Suid-Afrika uit die 2023-toernooi kon put as hy nie sy kans op die nippertjie verknoei het nie.

Te lig in die broek om die werking van die internasionale rugbypolitiek na waarde te skat (of dalk vir die politiek as sulks), het die SA Rugbyunie (Saru), toe die aanvanklike bodaanslag in sy guns beslis is, op sy louere gerus, en moes hy toesien hoe die politiek-bekwamer Franse dit voor hom wegraap.

Saru het glo nie eens die moeite gedoen om hom van Rugby Afrika, die gewestelike beheerliggaam, se steun te vergewis nie – en, erg in die gesig gevat, stem dié toe ook vir Frankryk.

Nou is dit te laat vir trane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.