Japan se jonges maak soos hul ouboete en klop die Bokkies

Een van die ses drieë wat die jong Poemas teen Suid-Afrika se o.18s gedruk het. (Foto: Twitter @youtholympics)

En toe doen Japan dit weer!

Suid-Afrika se skole- en sewesrugby is die naweek in die o.18’s se sewestoernooi by die jeug- Olimpiese Spele in Buenos Aires lelik in die bek geruk.

Sommer met die intrapslag Saterdag het die Bokkies onverwags met 12-14 teen Japan verloor soos die Springbokke in 2015 se Wêreldbeker-toernooi ook gedoen het. Hulle het in hul tweede wedstryd, teen Frankryk, 12-17 slae gekry. Albei dié twee spanne is reeds, saam met die gasheerland Argentinië, wat onoorwonne is, deur na die halfeindronde.

Sondag het die Bokkies op die wenpad gekom en die VSA naelskraap met 19-12 geklop voordat hulle ʼn loesing van 5-34 teen Argentinië op die lyf geloop het. Die oorwinning teen die VSA moet ook in perspektief gestel word: Die Amerikaners het nog net twee keer gelykop gespeel en het ná hul vier wedstryde nog nie gewen nie.

Die Suid-Afrikaanse span, wat deur Marius Schoeman afgerig word en die eerste keer aan die Olimpiese Spele deelneem, het in 2015 die jeug- Statebondspele in 2015 in Samoa gewen.

Hulle het in Julie die titel by die Afrikaspele gewen en was moontlik die gunsteling om in Argentinië skoonskip te maak. Spanne soos Engeland, Nieu-Seeland, Australië en Fidji, wat tussen die grotes in sewesrugby tel, neem nie deel nie.

Alles is egter nog nie vir die Bokkies verlore nie. Ná hul drie neerlae in vier wedstryde op die eerste twee dae móét hulle nou eenvoudig Maandagmiddag (SA tyd) teen Samoa wen om seker te maak hulle haal die halfeindstryd. Samoa is sesde op die punteleer en steeds sonder ʼn oorwinning.

Die VSA het, soos Suid-Afrika, ses punte op die punteleer maar speel in sy laaste wedstryd teen Argentinië, wat tot dusver al vier sy wedstryde gewen en 22 drieë teen net vier gedruk het.

Suid-Afrika het tot dusver gesukkel om punte aan te teken en het in hul vier wedstryde nog net agt drieë gedruk en reeds 13 afgestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

poot ·

Die Springbokke sal weer moet oppas vir Japan by die wereld beker.

Robert ·

Neewat Poot: die eddie jones faktor is nie meer daar nie. Jamie Joseph is nie in dieselfde kaliber as EJ nie en EJ het presies geweet hoe die Bokke speel. japan het ook maar nie waffers gevaar in hulle Europese toer nie. Die Bokke is heel ander span as in 2015.

Niklaas ·

Ek het die jong Bokke gesien ploeter teen Japanse jongspan. Duidelik is SA swak afgerig want daar is talle talentvolle jonges daar. Maar Bokkies se vrot hanteerwerk en weinig tot geen verdedigings pogings sal enige span in staat stel om hul te klop. En dis nou die toekoms van SA rugby ! Maak mens moedeloos.

Haan ·

SA Rugby is terminaal siek. Aanvaar dit net. Ondanks n paar ligpunte is die algemene trajek afwaarts

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.