Japan se tweede wen teen SA o.18’s dié keer ʼn loesing

Was dit werklik die beste 12 spelers wat gekies is? Is Suid-Afrika se jong spelers se vaardighede werklik só vrot?

Dis die vrae wat by jou opkom ná die skokkende reeksuitslae van die Suid-Afrikaanse o.18-sewesspan wat aan die Jeug Olimpiese Spele in Buenos Aires deelgeneem het.

Hulle het vier van hul ses wedstryde verloor met die verdediging en hantering wat op dieselfde vlak van middelmatigheid was.

Daar is 18 drieë teen hulle gedruk en hulle het self net 14 gedruk. Vyf daarvan was in die laaste ligawedstryd teen Samoa, wat sesde en laaste geëindig het en wat 29 drieë in hul ses wedstryde afgestaan het.

Om nie ʼn medalje te wen nie, is op sigself ʼn skok, eintlik ʼn skande, as mens in ag neem dat geen van die wêreld se voorste lande in sewesrugby in die kompetisie gespeel het nie.

Suid-Afrika het vierde geëindig nadat Japan hulle Maandag ʼn tweede keer in die kompetisie, dié keer in die uitspeel om derde plek, geklop het. En hierdie tweede neerlaag was méér as net verloor, dit was ʼn loesing van 5-28.

Fout kan sekerlik nie by die afrigting gesoek word nie. Die ervare Marius Schoeman is saam met Neil Powell die voorste sewesafrigter in die land en het al verskeie kere met die SA Akademiespan internasionale toernooie gewen.

Die vertonings in Buenos Aires het miskien die gebreke van Suid-Afrikaanse skolerugby meer blootgelê as in die vyftienmankode, waar die afgelope twee jaar se vertonings die SA o.18’s maar self bra eina was en die waarskuwingsligte laat flikker het.

♦ Die Olimpiese eindstryd in Buenos Aires is deur die tuisspan, Argentinië gewen, wat Frankryk met 24-14 in hul taaiste wedstryd van die kompetisie geklop het. Argentinië was onoorwonne in die reeks en was ongetwyfeld die beste span in die reeks wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Ek kan net raai dat die beste span nie gekies is nie, maar ons is mos gewoond daaraan dat verteenwoordigend baie meer as beste beteken.

LOL

Kan die afrigters en SA Rugby dalk antwoorde gee? Was die bestes almal beskikbaar teen agtergrond van matriek eindeksamen huidiglik? Was die bestes gekies of kwota situasie? Hoeveel tyd het die span saam geoefen/spandeer? Was die Cravenweek die maatstaf of nie?

LR

Vermoed daar was te veel kwota spelers in die span.

Swartwolf

Ha ha waar is al die kwota broertjies nou ? Japan? twee keer in ‘n ry?? Selfs die artikel vra of die sterkste span gekies is. Antwoord is nee. Laaste keer wat die sterkste enige nasionale rugby span van SA gekies is was die RWC finaal van 2007. Die res is geskiedenis, insluitende die kwota gemors soos die sewes en twee weke terug se teleurstelling op Loftus.

Johan

Ek het nie enige wedstryd gesien nie, so ek argumenteer op grond van logika. 1. Ons beste spelers is te swak. Gegewe ons normaalweg minstens goeie vertonings (onder top 5) deur ons Junior Bokkies in die 15-man Wereldbeker toernooie waar die toplande speel, kan ek nie glo dat ons bestes so swak was nie. 2. Die beste spelers is nie gekies nie. Ek dink hierdie opsie was wat waarskynlik gebeur het. Nou is die vraag hoekom is die beste spelers nie gekies nie? Was die bestes nie beskikbaar nie? Was die keurders bevoeg? Was politiek ter sprake? In hoe ‘n… Lees meer »