Japanners kies vyf spelers uit Suid-Afrika

Michael Leitch, voor, lei die Sunwolves aanstaande jaar. (Foto: Sunwolves)

Die Japanse Sunwolves het vyf Suid-Afrikaners in hul groep vir aanstaande jaar se Superrugbyreeks ingesluit.

Benewens die gewese Cheetahs-losvoorspeler Willie Britz, wat verlede jaar reeds vir die franchise gespeel het, is die slotte Wimpie van der Walt (met drie toetse vir Japan agter die blad) en Grant Hattingh, die stut Ruan Smith en die veelsydige agterspeler Gerhard van den Heever deel van die groep.

Van der Walt het sy toetsbuiging in November as plaasvervanger-slot in die 19de minuut van die kragmeting teen Australië in Jokohama gemaak, en sy eerste toetsdrie gedruk. Teen Tonga en Frankryk was hy in die opdrafspan.

Hy het Superrugby vir die Kings en die Bulls gespeel.

Hattingh (Bulls), Smith (Western Force en Brumbies) en Van den Heever (Bulls en Stormers) het ook almal Superrugby-ervaring.

Smith het die Westelike Provinsie in die reeks om die Vodacombeker verteenwoordig voor hy Australië toe is.

Van den Heever was verlede jaar een van die voorste puntemakers in die Japanse Topliga, maar sedert die Dapper Bloeisels se toetsheelagter Ajoemoe Goromaroe hom ook by Yamaha Jubilo gevoeg het, het hy die stelskopwerk oorgeneem.

Die Japanse toetskaptein, die Nieu-Seelands-gebore Michael Leitch, wat voorheen vir die Chiefs gespeel het, het hom ook nou by die Sunwolves geskaar en sal die span lei.

Die haker Jaba Bradvadze, met 46 toetse agter sy naam, is sover vasgestel kan word die eerste Georgiër wat Superrugby sal speel.

Die Nieu-Seelandse afrigter Jamie Joseph se Sunwolves se kosmopolitaanse karakter word versterk deur die insluiting van die Nieu-Seelanders Craig Millar, Hayden Parker, Lamano Lemeki en Robbie Robinson; die Australiërs Sam Wykes en Ed Quirk; die Tongane Asaeli Ai Valu en Uwe Helu; die Suid-Koreaan Ji-won Koo en die Samoaan Timothy Lafaele (Samoa), van wie sommige reeds Japan in toetsrugby verteenwoordig het.

Die groep –

Heelagters: Lamano Lemeki, Robbie Robinson.

Vleuels: Gerhard van den Heever, Kenki Foekoeoka, Akihito Jamada.

Senters: Haroemisji Tatekawa, Timothy Lafaele.

Losskakels: Joe Tamoera, Hayden Parker.

Skrumskakel: Foemiaki Tanaka.

Stutte: Asaeli Ai Valu, Keita Inagaki, Ji-won Koo, Ruan Smith, Craig Millar.

Hakers: Jaba Bradvadze, Sjota Horie.

Slotte: Grant Hattingh, Sam Wykes, Kazoeki Himeno, Uwe Helu, Ed Quirk, Wimpie van der Walt.

Losvoorspelers: Shoensoeke Noenomaki, Willie Britz, Michael Leitch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Darius Els ·

WONDERLIK !Ek hoop meer witspelers sal REG kies en eerder geld vat as Floubok kleure.

Yankee ·

Ag nee Darius. Kyk, eks al 25 jaar in Amerika, maar dis my op. Springbok rugby, afval, biltong en koeksusters.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.