Japanners sal Folau ‘met ope arms’ verwelkom

Israel Folau. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Israel Folau se rugbystorie kry ’n nuwe hoofstuk nadat hy ’n kontrak met die Japanse klub NTT Communications Shining Arcs gesluit het.

Dit sal die voormalige Wallabies-heelagter se eerste proesel van vyftienmanrugby wees sedert hy in 2019 deur Rugby Australië (RA) in die pad gesteek is oor ’n boodskap wat hy op sosiale media gedeel het.

Die ster-agterspeler van die Waratahs het in April 2019 die volgende op sy Instagram-rekening geplaas: “Dronkaards, homoseksuele persone, egbrekers, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodedienaars – hel wag vir julle.”

Hy het bygevoeg dat hulle hulself moet bekeer en dat net “Jesus kan red”.

Volgens Rob Penney, Shining Arcs se nuwe hoofafrigter, kan die Japanners vir Folau met ope arms verwelkom – juis omdat hy ’n uitstekende rugbyspeler is.

“Israel is ’n speler van wêreldgehalte, daar is nog oorgenoeg petrol in sy tenk oor en hy sal ongetwyfeld ’n verskil hier maak. Die Japanse mense sal hom, te danke aan sy sportvernuf, verwelkom,” het Penney gesê.

Penney meen dat rugbyondersteuners moet aanbeweeg en vir Folau toelaat om rugby te speel.

“Hy kan ongelooflike dinge op die rugbyveld doen en dit is belangrik dat hy betrokke by die spel bly; dit sal ongetwyfeld ’n welkome hupstoot vir Shining Arcs wees.”

Die 32-jarige speler het ook verlede jaar koerantopskrifte gehaal toe hy besluit het om staande te bly terwyl van sy Catalans Dragons-spanmaats besluit het om die knie te buig ter ondersteuning van die Black Lives Matter-beweging.

Hoewel sy aksie kritiek ontlok het, het Steve McNamara (afrigter) gesê dat dit die speler se persoonlike keuse is.

“As spelers en afrigters is ons gekant teen rassisme, maar daar is sommige spelers wat besluit het om nie die knie te buig nie. Dit is hul persoonlike keuse en as bestuur het ons besluit dat ons enigiemand se keuse sal respekteer,” het hy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nici ·

Vryheid van geloof en spraak is ‘n noodsaaklike reg om n vrye samelewing te verseker. Lyk my die Japanese weet dit beter as die Aussies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.