Jasper en Tigers se paadjies gaan skei

Suid-Afrika se Jasper Wiese op volle vaart in die Wêreldbeker-wedstryd teen Ierland. (Foto: Matthieu Mirville/DPPI via AFP)

Leicester Tigers het bevestig dat die 2023/’24-seisoen Jasper Wiese se laaste saam met dié klub sal wees.

Die Springbok-losvoorspeler se rugbypad het hom in 2020 na Welford Road geneem en met sy klipharde inklimspel het hy dadelik een van die ondersteuners se gunstelingspelers geword.

Wiese is onder meer as die speler van die wedstryd in die eindstryd van die Gallagher Premierliga teen Saracens aangewys, terwyl sy Springbok-loopbaan ook in dié tyd goeie momentum opgetel het.

“Ek het elke liewe oomblik saam met die Tigers geniet en ek sal beslis nog die beste vir my span en my medespelers gee. Ek sien daarna uit om in die komende seisoen nog spesiale herinneringe saam met almal te skep,” het Wiese gesê.

Volgens Richard Wilks, die Tigers se algemene bestuurder, is dit ʼn voorreg om ʼn speler van Wiese se kaliber deel van sy opset te hê.

“Ons is ongelooflik trots op die speler en mens wat Jasper in sy tyd by Leicester Tigers geword het. Toe hy by ons aangesluit het, was hy ʼn relatiewe onbekende Cheetahs-speler, maar nou het hy al 27 Springbok-toetse agter sy naam, terwyl hy ook ʼn Wêreldbeker-wenner is,” het Wilks gesê.

“Dit getuig nie net van sy eie vaardighede en harde werk nie, maar ons afrigtersgroep verdien ook ʼn klop op die skouer. Hy is ʼn baie gewilde speler en ons sal hom beslis mis.”

Volgens RugbyPass stel Franse klubs – spesifiek Stade Francais – glo in die 28-jarige losvoorspeler se dienste belang.

 (Foto: Twitter)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.