JC kan in Tafelberg se skadu baljaar

JC Pretorius is een van van die Blitsbokke se gevaarmanne. Foto: GB Jordaan

Die Seweswêreldbeker-toernooi in Kaapstad is om die draai en een van die Blitsbok-sterre is ongetwyfeld JC Pretorius.

Die 24-jarige speler het al 225 punte vir Suid-Afrika aangeteken en hy is ʼn bekende gesig in al wat ʼn droomspan ná ʼn groot toernooi is.

En benewens sy vaardighede, krag en stormlopies is hy ook deksels vinnig.

In 2019 het Wêreldrugby ʼn video van Pretorius gedeel waar hy ʼn spoed van 35 km/h op die aanval in Vancouver bereik. Nodeloos om te sê het hy toe hakskene vir die verdedigers gewys.

O ja, hy het ook al gewys dat hy ʼn speler vir die groot verhoog is. Wie sal verlede jaar se wendrie in die bekereindstryd van die Dubai-toernooi teen Australië vergeet?

Dan skort daar nie veel met sy toewyding aan ʼn span nie – sommer reeds van skooldae af.

In Middelburg het almal geweet dat Pretorius nog groot rugby gaan speel. Die blondekopflank het immers stervertoning ná stervertoning vir HTS Middelburg gelewer.

Soos wat een plattelandse oom tereg langs die veld opgemerk het: “ʼn Mens kry skoolrugbyspelers, en dán kry jy vir JC Pretorius.”

In sy skooldae was hy so te sê onstuitbaar as ʼn losvoorspeler in die vyftienman-weergawe van die spel. Hy was ʼn driedrukmasjien wat sy hart en siel vir HTS Middelburg uitgespeel het.

In twee opeenvolgende derby-wedstryde teen Hoërskool Middelburg (MHS), basies die Chiefs teen Pirates van skoolrugby in Mpumalanga, het hy ʼn driekuns van drieë in die twee wedstryde gedruk.

“Versnelling is beslis een van JC se sterk punte. Ek het nog nooit in my eie speeldae, óf as afrigter, ʼn speler gesien wat só vinnig van die merkie kan versnel nie,” het Coené Nolte, sy destydse afrigter by HTS Middelburg, gesê.

Nou, op sewesrugby se grootste verhoog, kan hy weer eens die vaardighede uitstal wat van hom so ʼn gedugte speler maak.

Blitsbok-groep vir Kaaptad: Cecil Afrika, Ronald Brown, Angelo Davids, Selvyn Davids, Muller du Plessis, Christie Grobbelaar, Sako Makata, James Murphy, Mfundo Ndhlovu, Ryan Oosthuizen, JC Pretorius, Siviwe Soyizwapi (kaptein), Impi Visser en Shaun Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Kom Blitzbokke doen dit tog hierdie keervir Nièl Hy het so ontsettend baie teruggegee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.