Jean terug, Jesse op vleuel

Jean de Villiers - sal die Bokke (moet) waag?  (Foto: guardian.com)

Jean de Villiers – voer die Bokke weer aan (Foto: guardian.com)

Suid-Afrika se staatmaker-senter Jean de Villiers sal Saterdag die Springbokspan aanvoer in sy terugkeer vir die span in hulle Rugbykampioenskapstryd teen Argentinië op Kingspark in Durban.

De Villiers is een van vier veranderinge aan die span wat twee weke gelede in ’n naelbytstryd teen die Nieu-Seeland verloor het.

Die 34-jarige De Villiers maak na nege maande sy terugkeer op buitesenter waar hy met Damian de Allende gaan skakel.

Jesse Kriel, wat hom goed van sy taak gekwyt het in die laaste twee toetse teen Australië en die All Blacks, skuif na die regtervleuel in die plek van Cornel Hendricks wat uit die wedstrydgroep weggelaat is.

“Jean se terugkeer is merkwaardig en inspirerend, ek kan nie wag om te sien wat hy vir ons sal bied langs opwindende jong talent soos Handré Pollard, Damian en Jesse nie,” het Springbok-breier Heyneke Meyer gesê.

“Jean het nou 160 minute se rugby agter die rug sedert hy ’n maand gelede sy terugkeer gemaak het en ek is vol vertroue hy sal sy merk maak as speler en kaptein.

“Jesse is ’n veelsydige speler, hy het al vleuel gespeel en het byna die hele Vodacom Superreeks op heelagter deurgebring. Sy vermoëns in die lug en werksverrigting asook taktiese skopwerk sal van waarde wees en hopelik sal hy meer spasie gegun word om aanvalle te loots.”

Buiten De Villiers behoort die Sharks se vuurvreter slot Pieter-Steph du Toit en die Stormers se Siya Kolisi van die bank af speeltyd te kry.

Du Toit en Kolisi het beide laas op 23 November 2013 teen Frankryk in Parys vir die Springbokke uitgedraf.

“Siya het ’n groot gedeelte van verlede seisoen misgeloop as gevolg van beserings en ’n afname in sy spelpeil, maar sy ingesteldheid was goed en hy het hard gewerk,” het Meyer gesê.

“Hy het vanjaar goeie rugby gespeel en sy insluiting stryk met ons besluit om dinge af te wissel voor die Wêreldbeker.”

Du Toit, wat herstel het van ’n van ’n kniebesering herstel het, is ’n welkome insluiting wat Meyer se slotdiepte ’n groot hupstoot sal gee.

Dit is spesifiek oor die slotposisie wat die Bokbreier onlangs nog moes kopkrap, maar Lood de Jager se witwarm vertonings teen die Australië en Nieu-Seeland het ook dié las verminder.

“Pieter-Steph was baie ongelukkig met beserings maar sy rehabilitasie het presies volgens plan gevorder en hy het die naweek ’n suksesvolle 40 minute se rugby by die Sharks agter die blad gekry,” het Meyer gesê.

Die kookwater flank Marcell Coetzee maak sy terugkeer na die beginspan waar hy die beseerde Francois Louw vervang terwyl Vincent Koch vir Jannie du Plessis instaan.

Die stut Marcel van der Merwe is ook nadergetrek as plaasvervanger terwyl Lwazi Mvovo die vleuel op die bank is.

Hoewel Fourie du Preez en Willem Alberts reg was om weer hulle plekke in die Groen-en-Goud in te neem het Meyer besluit om hulle ekstra tyd te gee om behoorlik van hulle beserings te herstel.

Die span –  

15 Willie le Roux, 14. Jesse Kriel, 13. Jean de Villiers, 12. Damian de Allende, 11. Bryan Habana, 10. Handré Pollard, 9. Ruan Pienaar, 8. Schalk Burger, 7. Marcell Coetzee, 6. Heinrich Brüssow, 5. Lood de Jager, 4. Eben Etzebeth, 3. Vincent Koch, 2. Bismarck du Plessis, 1. Tendai Mtawarira. Bank: 16. Adriaan Strauss, 17. Trevor Nyakane, 18. Marcel van der Merwe, 19. Pieter-Steph du Toit, 20. Siya Kolisi (DHL Stormers), 21. Cobus Reinach, 22. Pat Lambie, 23. Lwazi Mvovo.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christo Visagie ·

Mnr Meyer wat het geword van spelers wat op vorm was gedurende die Superrugby reeks, nou speel jy met woorde om jou besluit van Siya Kolisi te regverdig. Hy verdien nie om daar te wees nie punt. So ook Oupa Mahoje van die Cheetahs.

Danie ·

Kolisi en Du Toit het feitlik 2 jaar laas internasionale rugby gespeel en stap in Bokspan in. Wat van Jaco Kriel wat seker een van die beste losvoorspelers, indien nie die beste, gedurende die super reeks was. Kan nie glo dat die De Allende/Kriel senter kombinasie verbreek word nie.

Kobus ·

Ek verstaan ook nie hoekom Jaco Kriel nee oorweeg word nie. Heineke speel elke week sy beste 15. Spelers soos Lambie en Reinach kort meer speel kans bloot die feit dat hul wedstryd wennets is. Sou n sleutel speler seer kry het die speler wat instaan nie genoeg wedstryd tyd nie. Ek sou eerder ook vir De Villiers op vleul kies. Ons het n goeie senter kombinasie opgebreuk…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.